1Die uitspraak van die Here aangaande die plek waar visioene gesien word: Wat gaan aan? Hoekom hardloop almal na die dakke toe?
2Stad van oproer, stad wat altyd uitbundig was, so vol vreugde? Stad waar dié wat dood is maar nie deur die swaard geval het of in die geveg omgekom het nie.
3Al jou leiers het saam weggehardloop. Hulle het oorgegee sonder om weerstand te bied. Die mense probeer wegkom, maar hulle word ook gevang.
4Daarom het ek gesê: “Los my alleen dat ek kan huil. Moenie my probeer troos nie. Laat my huil oor my volk wat vernietig word.”
5Die oppermagtige Here, die almagtige, bring moeilikheid en verwarring oor die plek waar visioene gesien word, op ’n dag wanneer die stadsmure afgebreek word. Daardie dag sal die mense na die berge roep vir hulp.
6Die Elamiete is boogskutters wat met strydwaens kom. Die mense van Kir hou hulle skilde omhoog.
7Jou mooiste valleie staan vol strydwaens. Perderuiters staan in die stadspoorte.
8Alles wat jou beskerm het, word afgebreek. Julle hardloop wapenkamer toe om wapens te kry.
9Julle sien die mure van Jerusalem moet herstel word. Julle gaar water op in die onderste poel.
10Julle tel die huise in Jerusalem sodat julle party kan afbreek om die stene te gebruik met die doel om die stadsmuur te versterk.
11Tussen die stadsmure bou julle ’n opgaarpoel vir water uit die ou poel. Maar al julle koorsagtige planne sal niks help, want julle raadpleeg nie vir God wat dit alles gemaak het nie. Julle eer Hom nie wat dit alles lank terug beplan het.
12Die oppermagtige Here, die Almagtige, het julle geroep om te huil en te rou. Hy het gesê dat julle julle koppe kaal moet skeer soos julle rou oor julle sondes, dat julle klere van sak moet dra om te wys julle het berou.
13Maar in plaas daarvan dans en speel julle! Julle slag offerdiere, eet vleis en drink wyn. “Laat ons eet en drink, en vrolik wees,” sê julle. “Wat maak dit saak, want môre is ons in elk geval dood!”
14Die Here, die Almagtige, het aan my gewys: “Hierdie sonde van hulle sal tot die dag van hulle dood nie vergewe word nie.” So sê die oppermagtige Here, die Almagtige.
15So sê die oppermagtige Here, die Almagtige: “Gaan sê vir Sebna, die administrateur van die paleis:
16‘Wat dink jy, wie is jy? Jy bou vir jou ’n pragtige graf in die rots teen die hoogte.
17Die Here is op die punt om jou te gryp en ver weg te gooi. Hy gaan jou in ballingskap wegstuur, jou verwaande vent!
18Hy gaan jou soos ’n bal heen en weer gooi en jou dan weggooi in ’n ver, verlate land. Daar sal jy doodgaan en daar sal die strydwaens waarmee jy so gespog het, stukkend en nutteloos lê. Jy is ’n skande vir jou koning!
19Ek ontslaan jou uit jou amp, Ek vat jou weg uit jou posisie.
20Dan roep Ek my dienaar, Eljakim seun van Gilkija. om jou te vervang.
21Hy sal jou ampsklere dra, en jou titel en jou gesag hê. Hy sal ’n pa wees vir die mense van Jerusalem en Juda.
22Ek gee hom die sleutels van die koning se huis, die hoogste posisie in die koninklike hof. Hy sal deure oopsluit, en niemand sal dit kan toesluit nie. En deure wat hy toesluit, sal niemand kan oopsluit nie.
23Hy sal eer vir sy familie bring, want Ek slaan hom so diep in soos ’n tentpen.
24Hy sal groot verantwoordelikhede hê, en hy sal eer bring vir selfs die geringste van sy familie.’”
25Die Here, die Almagtige, sê: “Dan trek Ek die tentpen wat so diep ingeslaan was uit. Dit sal loskom en val. Alles wat daarop gesteun het, sal ook val. Die Here het gepraat!”