1Hierdie boodskap het na my gekom oor Babel: Rampe storm uit die woestyn op jou af soos dwarrelwinde wat deur die Negevwoestyn waai.
2Ek sien ’n skrikwekkende visioen: Ek sien dat jy geplunder en verwoes is. Gaan aan, mense van Elam en Medië, neem deel aan die beleg. Babilon sal val, en die gekla van die nasies wat deur haar verslaaf is, sal ophou.
3My lyf pyn soos dié van ’n vrou wat besig is om geboorte aan ’n kind te gee. Ek is platgeslaan deur wat ek hoor, en verskrik deur wat ek sien.
4My hart steier, ek is bang. Ek wens dat ek kan slaap, maar ek is te bang.
5Hulle maak reg vir ’n groot fees. Hulle gooi matte uit vir mense om op te sit. Almal eet en drink. Gou! Gryp julle skilde en maak reg vir die geveg! Julle word aangeval!
6Intussen het die Here vir my gesê: “Sit ’n wag op die stadsmuur sodat hy kan sê wat gebeur.
7Wanneer hy waens sien wat deur perde getrek word en soldate op donkies en kamele, moet hy alarm maak.”
8Die wag het uitgeroep: “Dag na dag het ek op die wagtoring gestaan, Meneer. Nag na nag het ek op my pos gebly.
9En nou, uiteindelik, kom die strydwaens en soldate.” Die wag het toe gesê: “Babilon het geval! Al die afgode van Babilon lê stukkend op die grond!”
10My volk, hulle het jou op die dorsvloer vertrap en uitgewan. Ek het vir jou alles gesê wat die Here, die Almagtige, die God van Israel vir my gesê het.
11Hierdie boodskap het na my gekom oor Edom: Iemand van Seïr af hou aan roep na my: “Wag, hoe lank voor die môre aanbreek? Wanneer is die nag verby?”
12Die wag antwoord: “Die môre het aangebreek, maar net daarna kom die nag. As julle weer wil kom vra, kom terug en vra maar.”
13Hierdie boodskap het na my gekom oor Arabië: Handelaars van Dedan, wat met julle handelsware rondreis, kruip weg in die woestyne van Arabië!
14Mense van Tema, bring kos en water vir die moeë vlugtelinge.
15Hulle het gevlug voor die swaarde en pyle van die oorlog. Hulle vlug vir die wreedheid van die geveg.
16Dit is wat die Here vir my gesê het: “Binne ’n jaar, so ondraaglik soos dit vir ’n dagloner is om hom af te sloof, sal al die glorie van Kedar tot ’n einde kom.
17Net ’n paar van sy dapperste soldate sal oorleef. Ek, die Here, die God van Israel het so gesê!”