1Hierdie boodskap het oor Tirus na my toe gekom: Huil, skepe van Tarsis, want Tirus is vernietig. Daar is geen huis of hawe oor. Alles is weg! Wat julle in Siprus gehoor het, is waar.
2Huil in stilte, mense van die kus en handelaars van Sidon. Julle gesante het oor die see gereis.
3Oor groot waters het hulle graan van Egipte af gebring, die oes van die Nyl om handel te dryf. Jy was die volke se markplein.
4Kry skaam, stad van Sidon, seevesting. Want die see sê: “Nou is ek kinderloos. Ek het nie seuns of dogters nie.”
5As Egipte die nuus oor Tirus hoor, sal sy mense bewe.
6Vlug nou na Tarsis toe! Huil, julle mense wat by die see woon!
7Is dit julle stad vol joligheid, die stad wat so lank bestaan, wie se mense in verre lande gaan woon het?
8Wie het hierdie ramp oor Tirus gebring? Tirus wat konings gekroon het, wie se handelaars soos prinse ontvang is, en wie se sakelui geëer is.
9Die Here, die Almagtige, het besluit om jou trots te vernietig en alle menslike arrogansie te verneder.
10Bewerk julle grond nou soos by die Nyl gedoen word, inwoners van Tarsis, want julle hawe bestaan nie meer nie.
11Die Here hou sy hand oor die see. Hy skud die koninkryke van die aarde. Hy beveel: Kanaän se vestingstede moet vernietig word.
12Hy sê: “Nooit meer sal jy bly wees nie, verdrukte dogter van Sidon. Selfs as jy na Siprus vlug, sal jy nie rus kry nie.”
13Kyk na die Galdeërs se land — die mense van daardie land is weg! Die Assiriërs het Babilon vir die wilde diere gegee. Hulle het stormramme daarteen opgerig, die paleise afgebreek, alles in ’n puinhoop verander.
14Huil, skepe van Tarsis, want julle vesting is vernietig!
15Vir 70 jaar lank, so lank as wat ’n koning leef, sal Tirus vergete bly lê. As die 70 jaar verby is, sal Tirus soos die prostituut sing:
16“Vat jou lier, stap deur die stad, prostituut wat vergete was! Speel mooi, lied na lied sodat hulle jou weer sal onthou!”
17Na 70 jaar sal die Here Tirus opwek. Maar die stad sal weer ’n prostituut word vir al die koninkryke van die wêreld.
18Tog sal die stad se wins en inkomste aan die Here gewy word. Haar rykdom sal gebruik word om goeie kos en mooi klere te verskaf vir die Here se priesters.