Ecclesiastes 5NLV

1Moenie te gou praat nie. Moenie oorhaastig iets aan God belowe nie. Onthou: God is in die hemel en jy is op die aarde. Laat jou woorde min wees.

2Baie aktiwiteit gee jou rustelose drome. Net so kom dwaasheid van te veel woorde.

3As jy iets aan God belowe het, moenie versuim om dit te doen nie. Hy het nie tyd vir dwase nie. Doen wat jy beloof het.

4Dis baie beter om niks te belowe nie as om iets te belowe wat jy nie doen nie.

5Moenie dat jou mond jou na sonde lei nie. Moenie jouself verontskuldig by die verteenwoordiger van die tempel deur te sê: “My belofte was ’n fout!” nie. Hoekom wil jy God kwaad maak met wat jy sê sodat Hy die werk van jou hande vernietig?

6Want soos daar baie drome is wat sinloos is, so is daar ook baie woorde. Maar jy moet ontsag hê vir God.

7Moenie verbaas wees as jy sien arm mense word verdruk en hulle regte word in die land misken nie. Alle amptenare is onder gesag van iemand bo hulle. En oor hulle is daar ook weer ’n hoër gesag.

8En onder alles is die voordeel vir ’n land dit: dat ’n koning aan die landbou diensbaar word.

9Mense wat geld liefhet, kry nooit genoeg daarvan nie. Mense wat van rykdom hou, is nooit tevrede met hulle inkomste nie. Ook dit is sinloos.

10Hoe meer jy besit, hoe meer word die eters wat jou help om dit te spandeer. Al voordeel wat jou rykdom vir jou inhou, is om te sien hoe dit deur jou vingers glip.

11Mense wat hard werk, slaap goed, maak nie saak of hulle baie of min eet nie. Maar die skatte van ryk mense laat hulle nie toe om rustig te slaap nie.

12Daar is ook nog ’n ander ernstige probleem wat ek gesien het: Party mense gaar besittings op tot hulle eie ellende.

13Net een ongelukkige transaksie, en hy verloor die rykdom. As hy die vader van ’n seun is, het hy niks om vir sy seun na te laat nie.

14’n Mens kom kaal die wêreld in, so gaan hy ook die wêreld uit. Daar is niks wat hy kan saamvat vir al sy moeite nie.

15Dis ook onregverdig: Soos mense gekom het, so gaan hulle. Wat help dit dat hy hom vir wind afgesloof het?

16Lewenslank lewe hulle in die duister, in smart, ellende en bitterheid.

17Maar ek het darem ook iets goeds opgemerk: Dit is goed dat mense lekker eet en wyn drink en hulle werk geniet, wat hulle ook al onder die son doen, gedurende die tydjie wat God hulle laat lewe. Dit is hulle deel op aarde.

18En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ’n geskenk uit sy hand dat ’n mens jou werk geniet en jou deel in die lewe aanvaar.

19Hulle kry min tyd om na te dink oor hulle lewe, want God maak hulle dae vol blydskap.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Ecclesiastes 5.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.