1Ek het weer al die verdrukking gesien wat onder die son gedoen word. Die verdruktes huil, maar niemand vertroos hulle nie. Ja, daar is niemand wat help nie, en hulle verdrukkers was baie sterk.
2Daarom het ek gedink mense wat reeds dood is, is gelukkiger as dié wat nog lewe.
3Die gelukkigste van almal is mense wat nog nie gebore is en nie die onreg gesien het wat onder die son gedoen word nie.
4Ek het toe opgemerk dat die meeste mense se moeitevolle arbeid gemotiveer word deur afguns op ander mense. En dis ook alles sinloos, ’n blote gejaag na wind.
5Dwase is te lui om te werk en gaan dood van die honger.
6Tog is ’n hand vol met rus beter as twee hande vol met moeite en ’n gejaag na wind.
7Ek het nog iets gesien wat sinloos is onder die son:
8Daar is iemand wat heeltemal alleen is, boonop sonder seun of broer. Tog is daar geen einde aan al sy moeite nie en word sy oë nie versadig met rykdom nie. Hy moet later sê: “Vir wat werk ek so hard en ontsê ek my alle plesier?” Dit alles is sinloos en ’n slegte taak.
9Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk.
10As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
11As twee langs mekaar slaap, word hulle warm. Maar hoe kan een wat alleen is, warm word?
12Iemand kan die een aanval, maar die twee kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.
13Dis beter om ’n jongmens te wees wat arm en verstandig is, as om ’n koning te wees wat oud en dwaas is en van niemand raad aanvaar nie.
14Die jong man kom dalk uit die tronk en word koning, al was hy arm gebore in die koninkryk van sy voorganger.
15Maar tog het ek gesien dat almal wat lewe onder die son die jong man volg, hy wat die koning se plek ingeneem het.
16Daar was nie ’n einde aan al die mense oor wie hy regeer het nie. Tog sal die nageslag nie met vreugde aan hom dink nie. Ook dit is alles sinloos, ’n blote gejaag na wind.
17Wees baie versigtig wanneer jy ingaan by die huis van God. Gaan eerder nader om te luister as om jou offer te bring soos dwase dit sou doen. Want dwase begryp nie dat hulle kwaad doen nie.