Ecclesiastes 3NLV

1Daar is ’n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd:

2’n Tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf. ’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is.

3’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak. ’n Tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou.

4’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag. ’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans.

5’n Tyd om jou saad te saai en ’n tyd om jou saad terug te hou. ’n Tyd om te omhels en ’n tyd om weg te bly van omhelsing.

6’n Tyd om te soek en ’n tyd om te verloor. ’n Tyd om op te pas en ’n tyd om weg te gooi.

7’n Tyd om te skeur en ’n tyd om vas te werk. ’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat.

8’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat. ’n Tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.

9Watter voordeel is daar vir die een wat iets doen wat hom vermoei?

10Ek het nagedink oor die taak waarmee God die mens belas.

11Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ’n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie.

12Ek het besef daar is vir mense niks beter nie as om vrolik te wees en tydens sy lewe die goeie te geniet.

13Mense moet eet en drink en onder al hul moeite nog die goeie kan geniet. Dit is geskenke van God.

14Ek weet alles wat God doen, is vir ewig. Niemand kan daar iets byvoeg of daar iets van wegneem nie. God doen dit sodat die mens Hom sal eer.

15Wat is, was reeds. Wat nog sal wees, was ook alreeds, God soek dít op wat alreeds verby is.

16Ek het nog iets onder die son opgemerk: In die plek waar reg moet wees, was daar onreg. In die plek waar daar geregtigheid moes wees, was daar boosheid.

17Toe het ek by myself gedink: “God spreek reg oor die regverdige en goddelose, want daar is ’n tyd vir elke saak, ook vir alles wat gedoen word.”

18Ek het besef God laat mense toe om in hulle boosheid te volhard, want Hy toets hulle. So kan hulle insien dat hulle niks beter is as diere nie.

19Die mens se lot is dieselfde as die dier s’n. Die een gaan dood, nes die ander. Hulle deel dieselfde asem. Die mens het geen voordeel bo diere nie, want alles is sinloos.

20Almal gaan na dieselfde plek. Hulle kom uit die stof en hulle word weer stof.

21Wie weet of die asem van die mens boontoe gaan en diere se asem afgaan na die aarde toe?

22Ja, ek het agtergekom dat daar niks beter is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Ecclesiastes 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.