1Onthou jou Skepper terwyl jy jonk is, later kom daar moeilike tye waarvan jy sal sê: “Ek geniet dit nie.”
2Dan sal die son, die daglig, die maan en die sterre donker word, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën.
3Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk,
4wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer ’n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.
5Dit is die tyd wanneer hy bang is vir ’n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep. Dis die tyd wanneer ’n mens se begeertes nie meer opgewek kan word nie. Dis die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan, en dié wat treur op die straat rondgaan.
6Dis die tyd wanneer die silwer draad van jou lewe afgebreek word en die goue kruik versplinter, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val.
7Dan sal die stof teruggaan na die aarde toe soos dit was en die gees terugkeer na God wat dit gegee het.
8“Alles is sinloos,” sê die Prediker, “alles is absoluut sinloos.”
9Die Prediker was nie net baie wys nie, maar het ook kennis aan die volk gegee. Hy het nagedink, nagevors en spreuke gemaak.
10Die Prediker het die regte woorde probeer kies, en die waarheid getrou neergeskryf.
11Die woorde van wyse mense is soos skerp stokke, versamelde spreuke soos spykers wat ingeslaan is. Dit is deur een Herder gegee.
12Wees verder versigtig, my kind: Aan die skryf van baie boeke kom daar geen einde nie. En deur baie te studeer, ooreis jy jou liggaam.
13Na alles wat jy gehoor het, is dit die finale slotsom: Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra.
14Want God gaan elke daad beoordeel, ook wat jy in die geheim gedoen het, of dit goed is of kwaad.