Colossians 1NLV

1Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.

2Ons skryf aan God se mense in Ko­los­se, gelowi­ge broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die ge­nade en vre­de van God ons Vader met julle wees.

3In al ons gebede dank ons God, die Va­der van ons Here Jesus Christus, vir julle,

4want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense.

5Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir jul­le gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan jul­le verkondig is.

6Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die he­le wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by jul­le gebeur het vanaf die dag toe julle die waar­heid oor God se genade gehoor en verstaan het.

7Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daar­van geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang.

8Dit is hý wat ons vertel het van die lief­de wat die Gees in julle bewerk het.

9Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy gees­te­like wysheid en insig aan julle sal gee so­dat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê.

10Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat jul­le lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken.

11Ons bid dat Hy deur die krag van sy god­delike heerlikheid julle sal toe­rus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap

12altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat vol­gens sy wil lewe.

13Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring on­der die ko­nings­heerskappy van sy gelief­de Seun.

14Deur die Seun het ons verlos­sing ver­kry, naamlik die verge­wing van son­de.

15Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping,

16omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde — die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is — álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.

17Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.

18Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is.

19God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon,

20en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

21Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde da­de het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is.

22Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos.

23Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar ge­word.

24Ek is nou bly dat ek tot julle voordeel kan swaarkry. Ek is bly dat ek die deel van Christus se vervolging wat nog oor­bly, kan help dra. Ek verduur dit in mý lig­gaam tot voordeel van sý liggaam, die kerk.

25Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verant­woor­delikheid gegee om aan julle sy volle bood­skap bekend te maak.

26Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak.

27God het be­sluit om aan hulle bekend te maak hoe wonder­lik die heer­likheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die ge­heim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heer­lik­heid sal deel.

28Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig. So wil ons graag elke mens in ’n vol­maak­te verhou­ding met Christus voor God laat staan.

29Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat magtig in my aan die werk is.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Colossians 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.