Psalms 71
1 Here, ek kruip by U weg! Moet my tog nie teleurstel nie! Help my! Laat my nooit skaam kry omdat ek op U vertrou nie.
2 Daarom vra ek: Gryp in! Help my! Pas my asseblief op! Want U doen altyd wat reg is.
3 Ek wil altyd by U kom wegkruip. U het my nog altyd gehelp. U pas my op. U sorg dat ek veilig is. U red my.
4 My God, beskerm my teen hulle wat nie na U wil luister nie. Hulle wil alles met geweld oplos. Hulle doen heeldag verkeerde dinge. Help my asseblief, Here,
5 want ek bou al my hoop op U. Van jongs af vertrou ek net op U.
6 Van my geboorte af is U ’n steunpilaar vir my. Van daardie eerste oomblik af dat ek met soveel moeite in die wêreld gekom het, het U my beskerm. Daarvoor sal ek U altyd prys.
7 Mense vertel vandag nog dat dit ’n wonderwerk is dat ek leef. Dit alles is u werk. Daarom kom ek nou nog na U toe vir hulp.
8 Ek kan U net aanhou loof. Ek sal U altyd bewonder.
9 Here, moenie u rug vir my draai noudat ek oud geword het nie! Moet my nie alleen los noudat ek swak is nie.
10 Help my asseblief, want hulle wat my nie liefhet nie, hou my fyn dop. Hulle wil my doodmaak.
11 Hulle skinder agter my rug en sê: “God het hom verlaat. Ons kan hom maar onderstebo loop. Niemand sal hom tog help nie.”
12 God, moet tog nie u rug vir my draai nie. Moet my nie alleen los nie! My God, kom help my tog gou!
13 Laat hulle wat my haat, tweede kom. Mag hulle in die aarde wegsink. Hulle wou my tot ’n val bring. Sorg asseblief dat hulle self in die skande kom.
14 Ek sal altyd op U bly hoop. Ek sal altyd vertel van die goeie dinge wat U doen.
15 Ek sal sonder ophou sê hoe U mense help. Ek het nie genoeg woorde om al u verlossingsdade mee te beskryf nie. Hulle is meer as wat ek kan tel.
16 Ek sal aanhou vertel van al die wonderlike dinge wat die Here gedoen het. Oor die bevryding wat net U alleen kan gee, sal ek praat.
17 God, U was vir my soos ’n onderwyser van kleins af. Nou nog vertel ek van die wonderlike dinge wat U gedoen het.
18 Ja, selfs noudat ek oud en grys geword het, sal ek dit aanhou sê. God, moenie nou u rug vir my draai nie. Ek wil eers vir my kleinkinders vertel hoe sterk U is.
19 Almal kan u groot werke raaksien. God, daar is niemand soos U nie; nie hier op aarde nie, en ook nie in die hemel nie.
20 U het baie krisisse oor my gebring, maar U het my elke keer gered. U het my elke keer uit die kloue van die dood kom haal.
21 Laat mense weer respek vir my kry. Help my.
22 Dan sal ek U met my musiekinstrumente prys. My God, ek sal U loof. U is getrou. Met my musiek wil ek U eer. Niemand is soos U nie. U is die Heilige van Israel.
23 Ek sal opgewonde juig wanneer ek vir U lofliedere sing. Ek sal bly wees, omdat U my gered het.
24 Ja, ek sal U elke dag prys, want U het gesorg dat my lewe veilig is. Hulle wat my kwaad wou aandoen, sal self gespot word. Hulle sal self in ellende beland.