Psalms 72
1 O God, leer die koning om te regeer soos U dit wil hê. Leer hom om reg op te tree soos U wil.
2 Wys hom hoe om reg op te tree. Laat hy altyd mense wat swaarkry, regverdig behandel.
3 Die berge en heuwels sal bly wees omdat daar vrede is, vrede omdat die koning doen wat reg is.
4 Hy sal mense help wat hulp nodig het. Hy sal arm mense help. Maar mense wat ander sleg behandel, sal hy straf.
5 Dan sal u kinders U altyd dien, so lank as wat daar ’n son en ’n maan is.
6 Mag die koning vir sy mense soos lekker reën na ’n groot droogte wees wat die aarde deurdrenk.
7 Mag sy mense voorspoedig wees terwyl hy regeer. Mag hy sy mense aanmoedig om te doen wat God van sy mense wil hê totdat die maan nie meer daar sal wees nie.
8 Mag hy oor ’n yslike groot gebied regeer, tot aan die eindes van die aarde.
9 Mag die mense wat uit die woestyn kom, voor hom kniel en sy vyande magteloos voor hom in die stof kruip.
10 Mag die mense van oor die hele wêreld vir hom geskenke bring om te wys hoe belangrik hy is. Mag hulle almal aan hom belastings betaal.
11 Mag alle regeerders en nasies voor hom neerbuig om hom te dien.
12 Hy sal mense wat niks het nie en om hulp smeek, gee wat hulle nodig het. Hy sal mense in groot moeilikheid help as hulle niemand het wat hulle kan help nie.
13 Hy sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm.
14 Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir hom baie belangrik.
15 Lank lewe die regeerder! Mag hy ryk word omdat mense vir hom goud bring. Mag die mense God vra om die koning te help en om vir hom goed te wees.
16 Mag hy oorgenoeg kos hê vir al sy mense, ja, selfs te veel. Mag sy oeste baie groot wees.
17 Mag hulle hom vir altyd onthou. Mag hulle nog baie lank praat oor hoe ’n goeie koning hy was. Mag al die nasies mooi dinge oor hom sê en bly wees omdat hy koning was.
18 Sê vir God, die Here, dankie. Hy doen groot dinge wat niemand anders kan doen nie.
19 Loof Hom vir altyd, want Hy is wonderlik. Mag daar nie ’n plekkie op hierdie wêreld wees waar die mense nie besef hoe groot U is nie. Laat dit so wees, amen!
20 Die gebede van Dawid die seun van Isai is nou klaar.