Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 141

:
Afrikaans - DB
1 Here, ek bid tot U. Help my asseblief gou. Luister na my. Help my as ek tot U bid.
2 Ek hoop dat dit vir U aangenaam is om my gebed te hoor. My gebed is soos ’n rustige lied om vir U dankie te sê.
3 Here, help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek sê.
4 Keer my dat ek nie lus kry om slegte dinge te doen saam met mense wat U nie dien nie. Hulle stel net in hulleself belang. Hulle doen verkeerde dinge. Help my om nie saam met hulle slegte dinge te doen nie.
5 Ek gee nie om as iemand wat die Here liefhet met my oor my verkeerde dade praat nie. Al maak dit my baie seer, weet ek dat hy dit uit liefde doen. Daarom sal ek luister as hy my waarsku of raad gee. Ek bid egter dat mense wat die Here nie dien nie, sal ophou met al die slegte goed wat hulle doen. Ek kuier nie eens by sulke mense nie.
6 Daarom is ek baie bly om te hoor dat hulle mag gebreek is.
7 Hulle bene sal oral rondlê soos grond wat omgeploeg is.
8 Here, ek het U baie nodig. U beskerm my. Moet asseblief nie dat dinge vir my skeefloop sodat dit vir my voel of die laaste bietjie lewe uit my getap word nie.
9 Beskerm my teen slegte mense wat my tot ’n val wil bring. Mense wat slegte dinge doen, probeer my op ’n skelm manier om die bos lei. Laat hulle wat U nie dien nie, in hulle eie slaggate trap.
10 Laat hulle deur hulle eie geknoei ten gronde gaan. Maar ek, ek sal verder gelukkig lewe.