Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 140

:
Afrikaans - DB
1 ***
2 Here, red my asseblief van mense wat slegte dinge doen. Beskerm my teen mense wat alles met geweld wil regkry.
3 Daar is mense wat net die hele tyd kyk wat hulle verkeerd kan doen. Hulle maak net die hele tyd moeilikheid. Al hulle praatjies maak hulle baie gevaarlik.
4 Hulle is soos giftige slange. Hulle is reg om ander mense seer te maak met wat hulle sê.
5 Beskerm my, Here, teen daardie mense wat U nie wil dien nie. Hulle wil my net kwaad aandoen. Help my asseblief teen daardie mense wat alles vir my wil verongeluk. Hulle konkel agteraf om my onder te kry, al moet hulle geweld gebruik.
6 Mense wat dink hulle is beter as ander, probeer my aan die neus rondlei. Hulle wil my in die moeilikheid bring sonder dat ek dit verwag. Daarom maak hulle planne om my om die bos te lei.
7 Ek het vir die Here gevra: U is my God. Help my asseblief, Here. Ek smeek U om my asseblief te help.
8 Ek is U s’n, Here. U het al die krag om my te help. U beskerm my as ek in die moeilikheid is.
9 Here, moenie U steur aan mense wat U nie wil dien nie. Moenie toelaat dat hulle met my maak wat hulle wil nie. Moenie dat hulle regkry wat hulle in die mou voer nie. Anders hou hulle net aan om te dink dat hulle beter is as ander mense.
10 Laat hulle wat alles vir my wil verongeluk op hulle eie aansukkel. Gee dat hulle self deurloop onder die slegte dinge wat hulle in die mou voer, Here.
11 Laat hulle die pyn en hartseer voel wat hulle vir ander beplan het. Mag die Here sorg dat hulle geknoei tot hulle eie dood lei; ja, hulle moet bly lê.
12 Laat elkeen wat lelike dinge sê, nie regkry wat hy nie. Laat die slegte dinge wat hulle aan ander wil doen, hulle self tref. Die ongeluk moet hulle keer op keer ry.
13 Ek voel gerus om te weet dat die Here vir die mense sal sorg wat hulp nodig het. Hy sal sorg dat mense reg teenoor hulle optree, want Hy self is die regter.
14 Ja, Here, almal wat U liefhet, sal U prys, want U is groot. Elkeen wat eerlik en opreg is, sal saam met U lewe.