Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 139

:
Afrikaans - DB
1 Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word. U weet wat gaan hier binne-in my aan.
2 Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie. Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees.
3 Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie. U weet alles wat ek doen.
4 Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur.
5 U beskerm my hele lewe. Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek.
6 Dit is te oorweldigend.
7 U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.
8 As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my.
9 Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie.
10 Oral hou U my vas. En U lei my op u pad.
11 Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my.
12 Lig en donkerte is vir U dieselfde. Niemand kan vir U iets in die donker wegsteek nie.
13 Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm.
14 Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.
15 Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe.
16 Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur.
17 God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan.
18 As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein. En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen.
19 God, raak tog ontslae van mense wat weier om U te dien. Julle wat ander wil doodmaak, moet van my af weggaan.
20 Here, diegene wat sulke lelike dinge doen, is mense wat met U wil baklei.
21 Ek wil niks met hulle te doen nie. Ek kan nie mense verdra wat nie na U wil luister nie.
22 Mense wat teen U is, is ook nie my vriende nie.
23 God, kyk of U my kan vertrou. Toets my gesindheid.
24 Kyk of ek eerlik is. Help my op die regte pad. Hou my weg van al die verkeerde dinge.