Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 135

:
Afrikaans - DB
1 Kom prys die Here. Julle moet vir Hom baie dankie sê, julle wat Hom dien.
2 Julle wat die Here oral dien, kom prys Hom. Hy is ons God.
3 Kom loof die Here, want Hy is vir ons goed. Kom sing liedere om Hom groot te maak. Dit is lekker om hardop oor Hom te praat.
4 Die Here het lank terug vir Hom mense gekies. Hulle is Syne.
5 Dit staan soos ’n paal bo water: die Here is ’n groot God, groter as alle ander gode.
6 Hy doen wat Hy wil. Bo in die ruimtes, hier op die aarde, selfs in die see of op enige ander plek doen die Here wat Hy wil.
7 Daar ver op die horison laat Hy die wolke opkom. Wanneer dit reën, laat Hy die weerligstrale rondblits. Hy laat die winde waai.
8 Dit is die Here wat mag het oor lewe en dood. Voor Israel uit Egipte getrek het, het Hy die Egiptenaars se oudste seuns en vee laat doodgaan.
9 Hy het daar wonderwerke laat gebeur voor die farao en sy werkers.
10 Daarna het Hy ’n klomp volke voor Israel verslaan en baie sterk leiers
11 soos Sihon en Og laat doodmaak. So ook al die konings in Kanaän.
12 Toe het Hy aan sy volk ’n land gegee wat hulle s’n sou wees. So het sy kinders, die Israeliete, hulle eie eiendom gekry.
13 Here, U sal nooit ophou bestaan nie. Vir altyd sal mense U grootmaak.
14 Ja, die Here sal sorg dat sy mense reg behandel word. Hy sal vir elkeen wat Hom dien, ’n sagte plekkie in sy hart hê.
15 Mense wat die Here nie dien nie, het hulle eie dooie gode. Dit kan geld of ander dinge wees wat waardevol lyk, alles dinge wat mense maak. Hulle lyk soos die ware Jakob, maar beteken net mooi niks. Dit is goed nagemaak.
16 Dit lyk wel of hulle gode kan praat, maar hulle maak geen geluid nie. Verder lyk dit of hulle kan sien, maar hulle is stokblind.
17 Dit lyk of hulle kan hoor, maar hulle reageer op geen geluid nie. Hulle is morsdood, want hulle haal nie eens asem nie.
18 Mense wat sulke dooie gode maak om te aanbid is net so dood soos hulle handewerk. Daardie mense beteken niks, want hulle vertrou op dooie goed.
19 Kinders van die Here, kom prys Hom. Mense in leiersposisies wat die Here dien, vir Hom dankie.
20 Ook julle wat sorg dat alles in die kerk reg loop, kom prys Hom. Almal wat die Here getrou dien en aanbid, kom vir Hom dankie.
21 Ons wens dat die Here oral geprys word waar mense Hom aanbid, want Hy is oral. Prys die Here!