Psalms 136
1 Loof die Here, want Hy is baie goed, sy liefde hou nooit op nie.
2 Loof God wat hoog bo al die gode uittroon, sy liefde hou nooit op nie.
3 Loof Hom wat baie sterker is as al die magtiges hier op aarde, sy liefde hou nooit op nie.
4 Die Here het groot wonders gedoen, Hy alleen, sy liefde hou nooit op nie.
5 Hy het die heelal met soveel wysheid gemaak, sy liefde hou nooit op nie.
6 Hy het die aarde bo-oor die oseane uitgesprei, sy liefde hou nooit op nie.
7 Hy het die hemelruim verlig, sy liefde hou nooit op nie.
8 Die son hou wag oor die dag, sy liefde hou nooit op nie.
9 Die maan en sterre hou wag oor die nag, sy liefde hou nooit op nie.
10 Al die oudste seuns in Egipte het Hy met die dood getref, sy liefde hou nooit op nie.
11 Hy het Israel daar tussen hulle gaan uithaal, sy liefde hou nooit op nie.
12 Hy het Israel met groot krag tot binne-in sy hand opgetel, sy liefde hou nooit op nie.
13 Hy het die Rietsee in twee geskeur, sy liefde hou nooit op nie.
14 Hy het Israel kurkdroog daardeur laat stap, sy liefde hou nooit op nie.
15 Maar Hy het Farao en sy leër in die see laat verdrink, sy liefde hou nooit op nie.
16 Hy het sy volk deur die woestyn gelei, sy liefde hou nooit op nie.
17 Die Here het magtige konings links en regs verslaan, sy liefde hou nooit op nie.
18 Beroemde heersers is voor Hom weggevee, sy liefde hou nooit op nie.
19 Hy het koning Sihon van die Amoriete verslaan, sy liefde hou nooit op nie.
20 Hy het koning Og van Basan verslaan, sy liefde hou nooit op nie.
21 [21-22] Hulle grond het Hy aan sy dienskneg Israel present gegee, sy liefde hou nooit op nie.
22 ***
23 Die Here het aan ons gedink toe ons swaargekry het, sy liefde hou nooit op nie.
24 Hy het ons kom red uit die hand van ons vyande, sy liefde hou nooit op nie.
25 Hy sorg vir almal, Hy laat ons leef, sy liefde hou nooit op nie.
26 Loof God, Hy wat in die hemel bly, sy liefde hou nooit op nie.