Psalms 119
1 God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê.
2 God hou baie van jou as jy sy woorde diep in jou hart bêre en elke dag jou bes doen om Hom gelukkig te maak,
3 ook as jy nie agter al wat sonde is, aanhardloop nie, maar alles doen wat Hy vir jou sê.
4 God, U sê presies vir my hoe ek moet leef.
5 Hoe wens ek nie dat ek elke oomblik kan doen wat U vra nie.
6 Dan sal ek nie so skaam kry as ek lelike dinge doen nie.
7 Here, diep uit my hart wil ek vir U sê dat U baie goed is; ek leer elke dag so baie oor U. Ek loof U.
8 Ek sal alles doen wat U vir my sê. Moet my asseblief nooit alleen laat nie!
9 Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê? As hy alles doen wat U sê.
10 Ek het net een doel: om U gelukkig te maak! Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê.
11 Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie.
12 Here, U is so wonderlik! Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra.
13 Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer.
14 Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap; dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld.
15 Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak.
16 U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde. Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie.
17 Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie.
18 Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê.
19 Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie.
20 My enigste wens is om te doen wat U vra.
21 U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd!
22 Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het.
23 Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het.
24 U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef.
25 My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof.
26 Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp;
27 leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink.
28 My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag.
29 Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my.
30 Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe.
31 U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie.
32 Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid.
33 Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra.
34 Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê.
35 Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig.
36 Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie.
37 Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra!
38 Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe.
39 Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen.
40 Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe.
41 Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het.
42 Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê.
43 Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem.
44 My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê.
45 Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap.
46 Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees.
47 Ek is so lief vir u Woord. Ek is bly daaroor.
48 Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly. Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie, ek dink heeltyd daaraan.
49 Onthou asseblief tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my hele lewe daaraan vas.
50 In slegte tye hou u beloftes my aan die gang.
51 Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie.
52 Dit wat U lank terug al gesê het, bly heeltyd in my gedagtes, dit gee my moed vir elke dag.
53 Ek word baie kwaad as ek sien dat slegte mense hulle nie aan u Woord steur nie.
54 U woorde is soos die mooiste musiek in my ore, al kry ek baie swaar.
55 Tot in die nag dink ek aan U, doen ek net wat U sê.
56 Om te doen wat U van my vra is my hele lewe!
57 U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra.
58 Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het.
59 Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul; toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U.
60 Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees.
61 Selfs slegte mense het my laat probeer val, maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie.
62 In die middel van die nag staan ek op om te bid, dan loof ek U omdat U so groot en goed is.
63 My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê.
64 Here, u goedheid is die hele wêreld vol. Leer my om na U te luister.
65 U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het.
66 Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte.
67 Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby; nou doen ek net wat U sê.
68 U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge. Leer my om u Woord te gehoorsaam.
69 Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen.
70 Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe.
71 My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister.
72 U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud.
73 U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra.
74 As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly. Ek vertrou op wat U sê.
75 As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree. Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou.
76 Vandag het ek u liefde bitter nodig! Help my, soos U belowe het.
77 Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe! Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys.
78 Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom. Hulle vertel ’n klomp leuens oor my. Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê.
79 Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan.
80 Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie.
81 Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie; ek wag heeldag op u troos.
82 Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak. Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?”
83 Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand. Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie.
84 Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou? Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak?
85 Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig.
86 Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê. Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien.
87 Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister.
88 U is so goed vir my; daarom vra ek: Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê.
89 Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd.
90 U goedheid raak nooit uit die mode nie. U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar!
91 Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U.
92 As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee.
93 So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre, want hulle het my lewe gered.
94 Ek is U s’n, van kop tot tone. Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap.
95 Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê.
96 Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute, maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd!
97 Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor.
98 Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie.
99 Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe.
100 Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre.
101 Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê.
102 Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef.
103 Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning.
104 U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.
105 U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap.
106 Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg.
107 Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het.
108 Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is.
109 My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie.
110 Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie.
111 U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap.
112 Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe.
113 Ek hou niks van skynheiliges nie, maar ek het u wet baie lief.
114 By U kruip ek weg, want U is baie sterk, U pas my goed op. Ek wag op u Woord om my sterk te maak.
115 Julle spul slegte mense moet dadelik padgee sodat ek kan doen wat my God sê.
116 Here, hou my hand styf vas soos U beloof het, dan sal ek voluit lewe. Moenie my teleurstel nie, kyk dan net hoe glo ek in U.
117 Hou my regop, dan is alles in orde, dan sal ek doen wat U sê.
118 U hou niks van mense wat nie na U luister nie. Hulle praat ’n spul leuens.
119 U vee goddelose mense van die aarde af soos ’n klomp rommel; daarom is ek so lief vir u Woord.
120 Ek het baie groot respek vir U. Dit wat U doen, vul my met ontsag.
121 Ek het nog altyd gedoen wat reg is, moenie dat my vyande my beetkry nie.
122 Kies asseblief my kant, goeie God, moenie dat mense wat te veel van hulleself dink, my uitbuit nie.
123 Ek sien baie uit na die dag dat U my kom help, ek hou vas aan u belofte dat U net doen wat reg is.
124 Tree asseblief in liefde teenoor my op, wys my hoe ek moet lewe.
125 Onthou, ek is u dienskneg, wys my wat dit presies beteken sodat ek kan doen wat reg is.
126 Here, vat daardie spul vas wat u wet oortree.
127 Ek het u voorskrifte met my hele lewe lief, dit beteken meer vir my as al die goud in die wêreld.
128 Daarom doen ek alles wat U sê tot in die fynste besonderhede. Maar verkeerde dinge, dit haat ek.
129 Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg.
130 Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig, dit vul gewone mense met wysheid.
131 Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe.
132 Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet.
133 Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad. Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie.
134 Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen, sodat ek net kan doen wat U sê.
135 Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen.
136 Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie.
137 Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge.
138 U sê presies vir ons hoe ons moet leef.
139 Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie.
140 U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer! Daarom het ek u Woord so lief.
141 Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie.
142 U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar.
143 Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink.
144 U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe.
145 Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!” Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen.
146 Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou.
147 Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help, ek wag dat U my moet antwoord.
148 In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig. Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê.
149 Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God. Here, laat my weer voluit leef!
150 Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader, hulle loop al verder en verder van u wet af weg.
151 Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid.
152 Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan.
153 Kyk ’n slag hoe sleg dit met my gaan en help my, want ek vergeet nie ’n enkele dag wat U sê nie.
154 Kies asseblief my kant en help my uit hierdie gemors uit; laat ek weer die lewe geniet, soos U belowe het.
155 Goddelose mense staan g’n kans om ooit gered te word nie, want hulle steur hulle nie aan wat U sê nie.
156 Gelukkig hou u goedheid nooit op nie, Here, dit hou net aan en aan. Daarom pleit ek by U om nuwe lewe.
157 ’n Hele klomp slegte mense is agter my bloed aan, maar gelukkig stap ek op u pad.
158 Mense wat nie doen wat U sê nie se leefstyl maak my siek; dit is verskriklik dat hulle die rug vir U draai.
159 Kyk na my! Sien tog raak dat ek elke woord van U liefhet. Here, hou asseblief aan om vir my goed te wees. Hou my aan die lewe omdat U so ’n goeie God is.
160 Alles wat U sê, is die waarheid, elke woord daarvan! Dit sal vir altyd en altyd die waarheid bly.
161 ’n Klomp belangrike mense vervolg my, al is ek onskuldig, maar dit vat nooit my respek vir u Woord weg nie.
162 My hart loop oor van opgewondenheid oor elke woord wat U sê, dit is die grootste skat wat ek nog ooit in my lewe gevind het.
163 Ek haat leuens, maar u wet, dit het ek lief met alles binne-in my.
164 Ek kan U nie genoeg loof nie, elke kans wat ek kry, gebruik ek om vir U te sê dat alles wat U doen, reg en goed is.
165 Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie.
166 Here, ek hou u hand styf vas; ek wag dat U my kom help, ek doen net wat U sê.
167 Alles wat U sê, word in my hart weggebêre, ek doen dit alles; ek is lief vir elke voorskrif uit u mond!
168 Kyk net: ek gehoorsaam alles wat U sê en luister na u raad, my lewe is soos ’n oop boek voor U.
169 Here, luister tog as ek smeek dat U my moet help, leer my om te verstaan wat U in die Bybel van my vra.
170 Gee aandag aan my nood; moenie dit ignoreer nie! Red my soos U belowe het.
171 Lof sal dan oor my lippe spoel, want U leer my hoe om te leef.
172 Ek sal heeltyd sing oor u Woord, want alles wat U sê, is reg en goed.
173 Hou my vas, want ek wil net doen wat U sê.
174 Here, ek het nie genoeg woorde om vir U te sê hoe ek na u hulp smag nie, u wet bring soveel blydskap in my lewe.
175 Maak my van binne af nuut, dan sal ek u Naam heeltyd loof. Maak my sterk om te doen wat U sê.
176 As ek soos ’n skaap is wat verdwaal het, kom haal my asseblief! Ek sal u stem dadelik herken, want ek vergeet nooit een van u woorde nie.