Psalms 118
1 Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed;
2 ja, sy liefde sal nooit ophou nie.
3 Al die Here se kinders moet sê: “Sy liefde sal nooit ophou nie.”
4 Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê.
5 Toe ek in die moeilikheid was, het ek ernstig tot die Here gebid. Die Here het na my geluister. Hy het my gehelp.
6 Die Here is by my. Daarom is ek vir niks bang nie. Niemand kan iets aan my doen nie.
7 Die Here help my. Mense wat nie van my hou nie, sal my nooit onderkry nie. Ek sal hulle wen.
8 [8-9] Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.
9 ***
10 Mense wat nie van U hou nie, het my probeer onderkry. Maar ek het hulle gewen, want die Here het my gehelp.
11 Die spul het my van alle kante bekruip. Maar die Here het my gehelp. Ek het hulle op hulle plek gesit omdat U by my was.
12 Hulle het soos ’n swerm bye op my toegesak, maar hulle het verdwyn soos droë grassies wat in ’n vuur wegbrand. Die Here was by my, en ek het hulle gewen.
13 Hulle het alles probeer om my te vernietig, maar die Here het my gehelp.
14 Die Here beskerm my. Hy gee my krag. Hy het my uit die moeilikheid gehelp.
15 Almal wat die Here dien, is baie bly omdat Hy hulle so uit die moeilikheid help.
16 Hulle praat oor hoe Hy hulle help. Hy is baie sterk. Hy doen ongelooflike dinge. Die Here se kinders wen, want die Here is baie sterk.
17 Ek sal nie doodgaan nie, maar bly lewe om oor al die groot dinge te praat wat die Here doen.
18 Dit het maar swaar gegaan, maar die Here het gesorg dat ek nie doodgaan nie.
19 Laat ek in die kerk ingaan vir die Here dankie sê en Hom aanbid, want Hy doen wat reg is.
20 Ek wil kerk toe gaan. Ek wil vir die Here baie dankie sê. Daar voel ek naby Hom.
21 Dankie dat U my gehelp het. U het my gered. U het gehoor toe ek na U geroep het.
22 Soms dink mense dat iemand sommer niks is nie. Maar by God is dit anders. Wat soms vir mense onbelangrik is, is vir die Here belangrik.
23 Dit is vir ons goed om dit te weet. Dit is die Here wat dit doen, en dit lyk vir ons na ’n wonderwerk.
24 So ’n dag is baie besonders. Ons sal bly daaroor sing.
25 Ag, Here, help ons asseblief. Luister, Here, maak ons tog gelukkig. Dit gaan goed met elkeen wat kom om die Here te dien.
26 Julle wat die Here dien, sal baie gelukkig wees.
27 Die Here is die enigste God. Hy help altyd. As Hy jou help, is dit soos ’n lig wat in ’n donker kamer inskyn. Kom ons hou ’n groot fees, want ons is baie bly. Ons moet vir Hom baie, baie dankie sê.
28 Here, U is my God. Ek wil vir U dankie sê. O my God, ek wil u Naam grootmaak en prys.
29 Kom prys die Here, want Hy is goed. Sy liefde sal nooit ophou nie. Daarvan kan jy seker wees.