Psalms 66AFR83

1Vir die koorleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, almal op aarde!

2Sing tot roem van sy Naam, gee Hom die eer wat Hom toekom!

3Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is u werk! U mag is groot, u vyande kruip voor U.

4Alle mense moet voor U buig, hulle moet sing tot u eer, hulle moet sing tot eer van u Naam. Sela

5Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense:

6Hy het die see in droë land verander; sy volk het droogvoets deur die rivier getrek. Toe het ons gejubel oor Hom

7wat ewig heers deur sy mag en die nasies in die oog hou. Die vyande moet hulle nie teen God verset nie! Sela

8Prys ons God, alle volke, laat sy lof weerklink!

9Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie!

10U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer;

11U het ons in 'n net gevang, 'n swaar las op ons gelê;

12U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe.

13Ek sal u huis betree met brandoffers en aan U die geloftes betaal

14wat ek gedoen het, wat ek afgelê het toe ek in nood was.

15Ek bring vir U vet skape as brandoffers, ramme as wierookoffers, ek offer beeste en bokke. Sela

16Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het:

17Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds 'n loflied op my lippe.

18As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie.

19Maar God hét geluister, Hy hét my gebed verhoor!

20Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys en sy trou nie van my weerhou het nie.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 66.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.