Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 65

:
Afrikaans - AFR83
1 Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied.
2 Aan U, o God, kom 'n lofsang toe in Sion: geloftes moet betaal word
3 aan U wat die gebed verhoor. Na U toe sal alle mense kom
4 om hulle skuld te bely. Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry.
5 Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet, die goeie dinge in u heilige woning.
6 In u trou antwoord U ons met kragtige dade, o God, ons Verlosser, op wie ook die mense in afgeleë lande en op verre seë vertrou.
7 U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan;
8 U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar,
9 sodat ook die mense in afgeleë lande ontsag kry vir die tekens van u mag; in die ooste en in die weste laat U die mense juig.
10 U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk!
11 U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei.
12 U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!
13 Daar is volop weiding in die woestyn; die bulte juig,
14 die velde wemel van die kleinvee, die vlaktes staan vol koring; hulle juig en hulle sing.