Psalms 139
1 Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
4 Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
7 Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
8 Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9 Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
10 ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
11 Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander,
12 maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.
13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16 U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
17 Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
18 As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
19 As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars!
20 Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree.
21 Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?
22 Ek haat hulle met 'n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.
23 Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!