Zephaniah 2
1 Kom byeen, kom bymekaar, skaamtelose nasie,
2 voor die bestemde tyd aanbreek – 'n dag vergaan soos kaf! – voordat die Here se brandende toorn julle inhaal, voordat die dag van die Here se toorn julle inhaal.
3 Soek die Here, al die nederiges van die land wat sy opdrag uitgevoer het. Soek geregtigheid, soek nederigheid; miskien vind julle 'n skuilplek op die dag van die Here se toorn.
4 Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan 'n woesteny word. Asdod sal helder oordag uitgedryf word en Ekron sal ontwortel word.
5 Wee julle, Kretensers, inwoners van die kusstreek! Die woord van die Here is teen julle. Kanaän, land van die Filistyne, “Ek sal jou vernietig, tot daar geen inwoners oor is nie.”
6 Die kusstreek sal vir skaapwagters weivelde wees en vir kleinvee krale.
7 Die streek sal behoort aan die oorblyfsel van die huis van Juda; hulle sal daar wei en saans in Askelon se huise gaan lê; want die Here, hulle God, sal vir hulle sorg en hulle lot verander.
8 “Ek het die gespot van Moab gehoor, die skeldtaal waarmee die kinders van Ammon my volk spot en op hulle grondgebied neersien.
9 “Daarom, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, “Moab sal soos Sodom word en die kinders van Ammon soos Gomorra: 'n gebied oortrek met onkruid, vol soutputte, 'n onherbergsame plek vir altyd. Die oorblyfsel van my volk sal hulle stede plunder en die res van my nasie sal hulle gebied as erfdeel verkry.”
10 Dit is wat hulle verwaandheid oor hulle gebring het, hulle het immers die volk van die Here, Heerser oor alle magte, gespot en op hulle neergesien.
11 Vreesaanjaend sal die Here vir hulle wees; Hy het immers al die gode van die aarde laat wegkwyn. So sal dan elke bewoner van al die eilande, elkeen vanuit sy woonplek, diep voor Hom neerbuig –
12 “Ook julle, Kussiete, wat deur my swaard deurboor is.”
13 Hy sal sy hand teen die noorde uitstrek en Assirië vernietig; Hy sal Nineve 'n verlate plek maak, dor soos 'n woestyn.
14 Troppe vee, allerhande diere sal daar gaan lê, bontkraaie en uile sal op die pilare oornag en hulle geluide sal deur die vensters weerklink. Puin sal op die drumpel lê, ja, die sederhout sal rondlê.
15 Dít is wat sal word van die uitbundige stad wat so kommervry leef, wat in haar hart sê: Ek is die een, niemand anders nie. Hoe verlate is sy, 'n lêplek vir diere. Elkeen wat daar verbyloop, sal fluit en sy hande saamslaan.