1Wee die gewelddadige stad, so vuil en besoedel!
2Sy het na geen stem geluister nie, geen teregwysing aanvaar nie. Op die Here het sy nie vertrou nie, tot haar God het sy nie genader nie.
3Die •hoë amptenare in die stad is brullende leeus, haar regters is nagwolwe wat niks tot die oggend laat oorbly nie.
4Haar profete is vermetel, verraderlike mense, haar priesters ontheilig wat heilig is, en doen die wet geweld aan.
5Die Here is regverdig in die stad, Hy doen geen onreg nie. Oggend na oggend gee Hy sy beslissings as die lig, dit ontbreek nooit nie; maar die boosdoener ken geen skaamte nie.
6“Ek het nasies uitgewis, hulle hoektorings staan verlate. Ek het hulle strate in puin gelê – niemand loop daar nie. Hulle stede lê verwoes – sonder mense, sonder inwoners.
7Ek het gedink, jy sal beslis vir My ontsag hê, jy sal die teregwysing aanvaar. Dan sou haar woonplek nie verwoes word nie – alles wat Ek oor haar bepaal het. Maar nogtans was hulle ywerig om net slegte dade te bly doen.
8Daarom moet julle My verwag,” is die uitspraak van die Here, “daardie dag as Ek opstaan vir die buit. Want my beslissing is: om nasies te versamel en koninkryke bymekaar te maak, om my verontwaardiging, al my brandende toorn, oor hulle uit te giet; want deur die vuur van my drif sal die hele aarde verteer word.
9“Ja, daarna sal Ek weer volke se lippe rein maak, sodat almal die Here se Naam aanroep, en Hom skouer aan skouer dien.
10Van anderkant die riviere van Kus sal hulle wat My aanbid, wat Ek verstrooi het, offers aan My bring.
11Op daardie dag sal jy jou nie skaam oor al jou dade waarmee jy teen My in opstand gekom het nie, want dan sal Ek jou hoogmoedige grootpraters uit jou midde verwyder. Jy sal nie langer selfvoldaan wees op my heilige berg nie.
12Ek sal in jou midde 'n nederige en arm volk laat oorbly, en hulle sal in die Here se Naam skuiling vind.
13Die oorblyfsel van Israel sal nie onreg doen en leuens vertel nie; 'n bedrieglike tong sal nie in hulle mond te vinde wees nie. Ja, hulle is diegene wat sal wei en gaan lê, sonder dat iemand hulle opjaag.”
14Jubel van vreugde, dogter van Sion, roep dit uit, Israel! Verbly en verheug jou met jou hele hart, dogter van Jerusalem!
15Die Here het die oordele oor jou afgewend, jou vyande uit die weg geruim. Die Koning van Israel, die Here, is in jou midde; jy sal geen onheil meer vrees nie.
16Op daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie vrees nie, Sion; Moenie dat jou moed jou begewe nie.
17Die Here jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.”
18“Die getreur by die fees sal Ek van jou af wegneem, dit is 'n las op jou, 'n skande.
19Kyk, Ek sal dan afreken met almal wat jou in daardie tyd verdruk het. Ek sal die verlamdes verlos, en hulle wat uitmekaar gejaag is, bymekaar maak. Ek sal hulle roem en aansien gee in elke land waar hulle verneder is.
20In daardie tyd sal Ek julle laat kom, terselfdertyd sal Ek julle bymekaarmaak. Ja, Ek sal vir julle onder al die nasies op aarde aansien en roem gee wanneer Ek julle lot voor julle oë verander,” sê die Here.