Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Zephaniah 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Dit is die woord van die Here aan Sefanja, seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia in die tyd van Josia, seun van Amon, koning van Juda.
2 “Ek gaan beslis alles van die aardbodem af uitwis, is die uitspraak van die Here.
3 “Ek gaan mens en dier uitwis. Ek gaan die voëls van die hemel en die visse in die see uitwis ook die struikelblokke saam met die goddeloses. Ek gaan die mensdom uitdelg van die aardbodem af,” is die uitspraak van die Here.
4 “Ek gaan my hand teen Juda en al die inwoners van Jerusalem uitstrek. Ek gaan uit hierdie plek alles wat van Baäl oorgebly het, uitroei, die name van die afgodsdienaars, asook die priesters.
5 Ook diegene wat op die dakke voor die hemelliggame neerbuig; diegene wat neerbuig, wat by die Here 'n eed sweer én ook by hulle koning 'n eed sweer;
6 diegene wat van die Here af weggedraai het, hulle wat die Here nie opsoek nie en Hom nie raadpleeg nie.”
7 Wees stil voor my Heer, die Here, want die dag van die Here is naby. Ja, die Here het 'n offer voorberei; Hy het sy genooides geheilig.
8 “En op die Here se offerdag gaan die volgende gebeur: Ek gaan afreken met die leiers, met die koning se seuns en almal wat uitlandse klere dra.
9 Ek gaan op daardie dag afreken met elkeen wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle heersers met geweld en bedrog vul.
10 “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “klink daar 'n noodkreet uit die Vispoort, 'n gekerm uit die nuwe stadsdeel, 'n groot gekraak uit die heuwels.
11 Weeklaag, inwoners van die markdistrik, want al die handelaars het stil geword; almal wat silwer afweeg, is uitgeroei.
12 In daardie tyd gaan dít gebeur: Ek gaan Jerusalem met lampe fynkam, Ek gaan afreken met die manne wat verdik op hulle droesem, wat in hulle hart sê, die Here doen nie goed nie en Hy doen nie kwaad nie.
13 Hulle rykdom gaan buit word en hulle huise sal verlate staan. Hulle gaan huise bou, maar nie daarin woon nie; hulle gaan wingerde plant, maar nie die wyn daarvan drink nie.
14 Naby is die groot dag van die Here, naby en baie vinnig aan die kom. Luister! Die dag van die Here! Dan skreeu die held bitterlik!
15 Daardie dag is 'n dag van gramskap, 'n dag van benoudheid en kwelling; 'n dag van verwoesting en vernietiging, 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis,
16 'n dag waarop die •ramshoring en oorlogskrete oor die versterkte stede en oor die hoë hoektorings weergalm.
17 Ek gaan die mensdom in die noute bring, hulle sal soos blindes voortstrompel, want hulle het teen die Here gesondig. Hulle bloed sal uitgegiet word soos stof, hulle ingewande soos uitwerpsel.
18 “Nóg hulle goud, nóg hulle silwer sal hulle kan red op die dag van die Here se gramskap. In die vuur van sy drif sal die hele aarde verteer word; ja, 'n gruwelike verwoesting bring Hy oor al die aardbewoners.”