Habakkuk 3
1 'n Gebed van Habakuk, die profeet. Op Sjighjonoot.
2 Here, toe ek van u roem gehoor het, is ek met ontsag vervul. U dade, Here, maak dit 'n werklikheid in hierdie tye; laat dit in hierdie tye bekend word. Onthou om barmhartig te wees te midde van ontsteltenis.
3 Toe God uit Teman kom, die Heilige van die Paranberge, het sy luister die hemelruim bedek, sy lof die aarde gevul.
4 Skitterend soos sonlig was die ligstrale uit sy hand; daarin het krag geskuil.
5 Voor Hom loop pessiektes, op sy spore volg plae.
6 Hy het gaan staan, en die aarde laat bewe; Hy het net gekyk, en die nasies laat opspring. Die oeroue berge het verbrokkel, die ewige heuwels het laag gebuk. Die ewige wentelbane van die sterre behoort immers aan Hom.
7 Ek het gesien die tente van Kusan verkeer in nood, die tentdoeke van die land Midian sidder.
8 Here, het u toorn teen die riviere ontbrand? Is u toorn teen die riviere, of is u gramskap teen die see gerig, dat U met u perde op u strydwaens ry vir verlossing?
9 U boog is heeltemal ontbloot, “sewe knuppels!” was die bevel; vir strome kloof U die aarde oop.
10 Berge het U gesien, hulle het ineengekrimp; 'n donderende wolkbreuk het verbygetrek; die •oerwater het sy stem laat hoor.
11 Hoog het die son sy hande gelig; die maan het stilgestaan in sy hoë woning, vir die lig van u pyle wat verbyvlieg, vir die glans van u blitsende spies.
12 In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat.
13 U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek.
14 U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in 'n skuilplek te verslind.
15 U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa.
16 Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, 'n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval.
17 Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie;
18 nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos.
19 Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop. Vir die •musiekleier. Met snarespel.