1Waarheen het jou liefste gegaan, mooiste onder die vroue? Waarheen het jou liefste weggedraai, dat ons hom saam met jou kan soek?
2My liefste het na sy tuin gegaan, af na die beddings balsemkruid om in die tuine te wei en om narsings te pluk.
3Ek behoort aan my liefste en my liefste behoort aan my, hy wat tussen die narsings wei.
4Jy is mooi, my liefling, soos Tirsa, pragtig soos Jerusalem, indrukwekkend soos vaandeldraers.
5Wend jou oë af van my, want hulle ontsenu my. Jou hare is soos 'n trop bokke wat teen Gilead afstroom.
6Jou tande is soos 'n kudde ooie wat van die drinkplek af opkom, almal tweelinge, nie een van hulle op sy eie nie.
7Agter jou sluier is jou slape soos 'n oopgebreekte granaat.
8Al is daar sestig koninginne, tagtig byvroue, en ontelbare jong vroue,
9my duif, my volmaakte, is enig. Enig is sy vir haar ma, die gunsteling van die een wat haar in die wêreld gebring het. Die meisies sien haar raak en noem haar gelukkig; die koninginne en byvroue sien haar raak en prys haar.
10Wie is dit wat daar verskyn soos die dagbreek, mooi soos die volmaan, helder soos die son, indrukwekkend soos vaandeldraers?
11Na die neuteboord het ek afgegaan om te kyk na die jong plante by die spruit, om te kyk of die wingerde rank, die granaatbome bloei.
12Sonder dat ek dit besef, het my begeerte my verplaas na die strydwaens van die vooraanstaandes van my volk.
13Draai om, meisie uit Sulem, draai om! Draai om! Draai om, sodat ons na jou kan kyk! Waarom staar julle na die meisie uit Sulem asof na die kringdans van Mahanaim?