Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 9

:
Afrikaans - AFR20
1 En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. Toe het ek 'n ster uit die hemel op die aarde sien val. Aan hom is die sleutel van die skag na die onpeilbare diepte gegee.
2 Hy het die skag na die onpeilbare diepte oopgesluit, en rook het uit die skag opgeborrel, soos rook uit 'n groot smeltoond. Die son en lug is deur die rook uit die skag verduister.
3 Uit die rook het daar sprinkane na die aarde geswerm. Aan hulle is dieselfde krag gegee as dié van skerpioene op aarde.
4 En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.
5 Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar slegs om hulle vyf maande lank te folter, deur hulle te pynig met 'n brandpyn soos wanneer 'n skerpioen 'n mens steek.
6 In daardie dae sal die mense na die dood verlang, maar dit nie vind nie; hulle sal begeer om te sterf, maar die dood sal hulle bly ontwyk.
7 Die voorkoms van die sprinkane was net soos dié van perde wat vir oorlog gepantser is. Op hulle koppe was daar iets soos krone, wat gelyk het asof dit van goud is, en hulle gesigte was soos dié van mense.
8 Hulle het ook hare gehad soos dié van vroue, en tande soos dié van leeus.
9 Die sprinkane het borsplate gedra, wat soos ysterborsplate gelyk het. Die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk na 'n oorlog.
10 Hulle het sterte met angels gehad, net soos skerpioene, en in hulle sterte was daar krag om die mense vyf maande lank te teister.
11 Die engel van die onpeilbare diepte was hulle koning. In Hebreeus is sy naam Abaddon, en in Grieks Apollion.
12 Die eerste ramp is verby kyk, hierna kom daar nog twee!
13 Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,
14 aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.”
15 Die vier engele wat gereed gestaan het met die oog op hierdie uur en hierdie dag en hierdie maand en hierdie jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mense dood te maak.
16 Die getal soldate in die ruitery was twee maal tienduisend maal tienduisend. Ek het gehoor dat dit hulle getal was.
17 Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: hulle het vuurrooi, oranjekleurige en swaelgeel borsplate gedra. Die perde se koppe het soos dié van leeus gelyk met vuur, rook en swael wat uit hulle bekke borrel.
18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke borrel, is 'n derde van die mense doodgemaak.
19 Die perde se krag het in hulle bekke en sterte gelê, want hulle sterte was net soos slange, met koppe aan, waarmee hulle skade aanrig.
20 Nogtans het die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, hulle nie bekeer van die werke van hulle hande nie. Hulle het aangehou om die demone te aanbid, en ook die afgode van goud, silwer en koper en van klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie.
21 Hulle het hulle dus nie bekeer van hulle moorde, towery, onsedelikheid of stelery nie.