Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 10

:
Afrikaans - AFR20
1 En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien afkom. Hy was met 'n wolk omhul, met 'n reënboog bo sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos vuurpilare.
2 In sy hand het hy 'n klein oop boekrolletjie vasgehou. Hy het met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde gaan staan,
3 en met 'n harde stem, soos die brul van 'n leeu, uitgeroep. Nadat hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle dreunings laat klink.
4 Toe die sewe donderslae galm, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Verseël dit wat die sewe donderslae laat galm het, en moet dit nie opteken nie.”
5 Die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy regterhand opgelig na die hemel,
6 en 'n eed gesweer by Hom wat vir ewig en ewig lewe, wat die hemel en wat daarin is, en die aarde en wat daarop is, en die see en wat daarin is, geskape het: “Daar is nie meer tyd oor nie.
7 Maar gedurende die dae wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal die misterie van God sy doel bereik, soos wat Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, verkondig het.
8 Toe het ek die stem wat uit die hemel kom, weer met my hoor praat: “Gaan haal die oop boekrol in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.”
9 Ek het toe na die engel gegaan, en hom gevra om die klein boekrolletjie vir my te gee. En hy het vir my gesê: “Neem dit, en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond so soet soos heuning wees.”
10 En ek het die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem, en dit opgeëet. In my mond het dit so soet soos heuning gesmaak, maar nadat ek dit geëet het, was dit bitter in my maag.
11 Toe hulle vir my: “Jy moet weer gaan profeteer teen baie volke, nasies, tale en konings.”