Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Revelation 8

:
Afrikaans - AFR20
1 En toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar vir ongeveer 'n halfuur lank stilte in die hemel neergedaal.
2 En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en aan hulle is sewe trompette gegee.
3 'n Ander engel het nader gekom met 'n goue wierookbak, en by die altaar gaan staan. Baie reukwerk is aan hom gegee om, saam met die gebede van al die heiliges, op die goue altaar voor die troon te gaan offer.
4 Die rook van die reukwerk het, saam met die gebede van die heiliges, uit die engel se hand voor God opgestyg.
5 Die engel het toe die wierookbak geneem, dit met vuur van die altaar af gevul, en dit op die aarde uitgegooi. En daar was donderslae, dreunings, weerligstrale en 'n aardbewing.
6 Die sewe engele met die sewe trompette het gereedgemaak om daarop te blaas.
7 Die eerste een het op sy trompet geblaas, en daar was hael en vuur, gemeng met bloed, en dit is op die aarde uitgegooi. 'n Derde van die aarde is verskroei, 'n derde van die bome is verskroei, en al die groen gras is verbrand.
8 Die tweede engel het op sy trompet geblaas, en iets soos 'n enorme berg, wat vlammend brand, is in die see gegooi. 'n Derde van die see het bloed geword;
9 'n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan, en 'n derde van die skepe het vergaan.
10 Die derde engel het op sy trompet geblaas. 'n Groot ster wat soos 'n fakkel brand, het uit die hemel geval op 'n derde van die riviere en op die fonteine.
11 Die ster se naam is Wildeals. En 'n derde van die waterbronne het soos wildeals geword, en baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit bitter geword het.
12 Die vierde engel het op sy trompet geblaas, en 'n derde van die son, 'n derde van die maan en 'n derde van die sterre is getref, sodat 'n derde van hulle verduister is. Vir 'n derde van die dag was daar nie lig nie; en net so was dit ook in die nag.
13 En ek het gesien, en ek het 'n engel wat hoog in die lug vlieg, met 'n skril stem hoor roep: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde, wanneer die ander drie engele binnekort met 'n geskal op hulle trompette blaas.”