1Vir die •musiekleier. Op “Dood van die seun”. 'n Psalm. Van Dawid.
2Ek wil die Here prys met my hele hart; ek wil van al u wonderdade vertel.
3Ek wil bly wees en my in U verheug; ek wil u Naam besing, Allerhoogste.
4Wanneer my vyande terugdeins, struikel hulle en kom hulle om vanweë u teenwoordigheid,
5want U het my reg in my regsaak gehandhaaf. U het op die troon gesit as 'n regverdige regter.
6U het die nasies tereggewys, die goddeloses vernietig; hulle naam het U vir altyd en ewig uitgewis.
7Die vyand – hulle is tot niet, puinhope vir goed. Die stede het U ontwortel. Die herinneringe aan hulle, dit het verdwyn.
8Die Here regeer vir ewig; Hy vestig sy troon vir die regspraak.
9Hý oordeel die wêreld in •geregtigheid; oor die nasies spreek Hy reg met billikheid.
10Die Here sal 'n toevlugsoord wees vir die onderdrukte, 'n toevlugsoord in tye van nood.
11Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here.
12Besing die Here wat in Sion regeer; maak sy dade onder die volke bekend.
13Want Hy wat bloedvergieting vergeld, dink aan die magteloses; Hy vergeet nie hulle hulpgeroep nie.
14Wees my genadig, Here, kyk hoe my haters my verdruk – U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –
15sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion. Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.
16Nasies het weggesink in die vangkuil wat hulle gemaak het; in daardie vangnet wat hulle gespan het, is hulle voete gevang.
17Die Here het Homself bekend gemaak: Hy laat reg geskied; goddeloses raak in hulle eie handewerk verstrik.
18Goddeloses draai om na die •doderyk, al die nasies wat God vergeet.
19Maar die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie vir altyd verlore nie.
20Staan op, Here, mense moet nie die oorhand kry nie; laat nasies voor U teregstaan.
21Vervul hulle met vrees, Here; die nasies moet besef dat hulle net mense is.