Psalms 86
1 'n Gebed. Van Dawid. Here, draai u oor, antwoord my, want ek is magteloos en behoeftig.
2 Beskerm my lewe, want ek is 'n getroue volgeling. Verlos u dienskneg wat op U vertrou; U is my God.
3 Wees my genadig, my Heer, want na U roep ek die hele dag lank.
4 Maak die hart van u dienskneg bly, want na U, my Heer, hunker ek.
5 U, my Heer, is immers goed en vergewensgesind, en oorvloedig in troue liefde teenoor almal wat na U roep.
6 Here, hoor tog my gebed en gee tog aandag aan my smeekgebede.
7 In die tyd van my nood roep ek na U, want U antwoord my.
8 Daar is niemand soos U onder die gode nie, my Heer, en niks soos u werke nie.
9 Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal u Naam eer.
10 Want groot is U en U doen wonders; U alleen is God.
11 Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê.
12 My Heer, my God, ek wil U prys met my hele hart; ek wil u Naam vir altyd eer,
13 want u troue liefde teenoor my is groot: U het my lewe weggeruk uit die •doderyk daar onder.
14 O God, vermeteles het teen my opgestaan; 'n klomp geweldenaars soek my lewe en hou U nie voor oë nie.
15 Maar U, my Heer, U is 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.
16 Draai na my en wees my genadig; gee u krag aan u dienskneg, en verlos die seun van u diensmeisie.
17 Gee my 'n teken van goedheid sodat hulle wat my haat, dit kan sien en beskaamd staan. U, Here, het my immers gehelp en getroos.