Psalms 71AFR20

1By U, Here, skuil ek; laat my nie vir altyd beskaamd staan nie.

2Red my en bevry my deur u •geregtigheid; draai u oor na my en verlos my.

3Wees vir my 'n rots, 'n skuiling waarheen ek altyd kan gaan, wat U beskik vir my verlossing. Ja, U is my rotsvesting en my bergskuiling.

4My God, bevry my uit die hand van goddeloses, uit die greep van hulle wat onreg doen en verdruk.

5Want U is my hoop, my Heer; Here, van my jeug af stel ek my vertroue in U.

6Op U steun ek van die moederskoot af; uit die ingewande van my moeder het U my losgeknip. U alleen loof ek deurentyd.

7Vir baie was ek 'n slegte teken, maar U was my sterk vesting.

8My mond is vol lof vir U, die hele dag lank vol van u heerlikheid.

9Moet my nie verwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat wanneer my kragte afneem nie.

10Want my vyande praat oor my; hulle wat my dophou, maak saam planne

11en sê: “God het hom verlaat; agtervolg hom en gryp hom, want niemand kan hom red nie.”

12O God, bly nie ver van my af nie; my God, kom my gou te hulp.

13Laat hulle wat my lewe bedreig, beskaamd staan. Laat hulle wat my onheil soek, in skande en vernedering gehul wees.

14Maar ek, ek sal voortdurend hoop, al u lof steeds meer besing.

15My mond sal van u geregtigheid vertel, van u verlossingsdade, die hele dag lank, al is die getal bo my begrip.

16Ek sal ingaan en getuig van die magtige dade van die Here, my Heer; ek sal getuig van u geregtigheid, net van U alleen.

17O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe maak ek u wonderdade bekend.

18Selfs tot in die ouderdom en grysheid, o God, moet U my nie verlaat nie, totdat ek aan die nageslag die mag van u arm bekend gemaak het, aan almal wat kom, u mag.

19U geregtigheid, o God, strek tot aan die hemel, U wat grootse dade verrig het. O God, wie is soos U?

20U wat my baie benoudhede en rampe laat ervaar het, U sal my weer lewend maak, my weer uit die watermassas van die wêreld laat opkom.

21U moet tog my aansien verhoog, omdraai en my troos.

22Dan sal ook ek U dank met begeleiding van harpsnare, vir u getrouheid, my God; ek wil U besing met begeleiding van 'n lier, o •Heilige van Israel.

23My lippe sal jubel wanneer ek U besing, ja, my hele wese, wat U vrygemaak het.

24Ook my tong sal die hele dag oor u geregtigheid prewel, omdat daardie mense beskaamd staan, omdat hulle wat my onheil soek, in die skande gekom het.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 71.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.