Psalms 71
1 By U, Here, skuil ek; laat my nie vir altyd beskaamd staan nie.
2 Red my en bevry my deur u •geregtigheid; draai u oor na my en verlos my.
3 Wees vir my 'n rots, 'n skuiling waarheen ek altyd kan gaan, wat U beskik vir my verlossing. Ja, U is my rotsvesting en my bergskuiling.
4 My God, bevry my uit die hand van goddeloses, uit die greep van hulle wat onreg doen en verdruk.
5 Want U is my hoop, my Heer; Here, van my jeug af stel ek my vertroue in U.
6 Op U steun ek van die moederskoot af; uit die ingewande van my moeder het U my losgeknip. U alleen loof ek deurentyd.
7 Vir baie was ek 'n slegte teken, maar U was my sterk vesting.
8 My mond is vol lof vir U, die hele dag lank vol van u heerlikheid.
9 Moet my nie verwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat wanneer my kragte afneem nie.
10 Want my vyande praat oor my; hulle wat my dophou, maak saam planne
11 en sê: “God het hom verlaat; agtervolg hom en gryp hom, want niemand kan hom red nie.”
12 O God, bly nie ver van my af nie; my God, kom my gou te hulp.
13 Laat hulle wat my lewe bedreig, beskaamd staan. Laat hulle wat my onheil soek, in skande en vernedering gehul wees.
14 Maar ek, ek sal voortdurend hoop, al u lof steeds meer besing.
15 My mond sal van u geregtigheid vertel, van u verlossingsdade, die hele dag lank, al is die getal bo my begrip.
16 Ek sal ingaan en getuig van die magtige dade van die Here, my Heer; ek sal getuig van u geregtigheid, net van U alleen.
17 O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe maak ek u wonderdade bekend.
18 Selfs tot in die ouderdom en grysheid, o God, moet U my nie verlaat nie, totdat ek aan die nageslag die mag van u arm bekend gemaak het, aan almal wat kom, u mag.
19 U geregtigheid, o God, strek tot aan die hemel, U wat grootse dade verrig het. O God, wie is soos U?
20 U wat my baie benoudhede en rampe laat ervaar het, U sal my weer lewend maak, my weer uit die watermassas van die wêreld laat opkom.
21 U moet tog my aansien verhoog, omdraai en my troos.
22 Dan sal ook ek U dank met begeleiding van harpsnare, vir u getrouheid, my God; ek wil U besing met begeleiding van 'n lier, o •Heilige van Israel.
23 My lippe sal jubel wanneer ek U besing, ja, my hele wese, wat U vrygemaak het.
24 Ook my tong sal die hele dag oor u geregtigheid prewel, omdat daardie mense beskaamd staan, omdat hulle wat my onheil soek, in die skande gekom het.