Psalms 51
1 Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2 Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.
3 Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming.
4 Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde
5 want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my.
6 Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel.
7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het.
8 Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid.
9 Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees.
10 Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig.
11 Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit!
12 Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste.
13 Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u •heilige Gees nie van my wegneem nie.
14 Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat 'n gewillige gees my ondersteun.
15 Ek wil oortreders u paaie leer, dat sondaars na U kan terugkeer.
16 Red my van bloedskuld, o God, God wat my verlos, laat my tong juig oor u geregtigheid.
17 My Heer, maak my lippe oop en my mond sal u lof verkondig.
18 U vind immers geen vreugde in slagoffers nie, anders sou ek dit gee; •brandoffers aanvaar U nie.
19 Offers aan God is 'n gebroke gees, 'n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie.
20 Doen volgens u wil goed aan Sion, herbou die mure van Jerusalem.
21 Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid – brandoffers en volledige offers – Dan sal daar op u altaar jong bulle geoffer word.