Psalms 40AFR20

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm.

2Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor.

3Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee.

4Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die Here vertrou.

5Gelukkig is die mens wat sy vertroue in die Here stel, en hom nie wend tot hoogmoediges en dié wat hulle toevlug neem tot leuens nie.

6So baie het U, Here my God, gedoen – u wonders en wat U vir ons beplan het. Niemand kan met U vergelyk word nie. Ek wil dit graag bekend maak, en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem.

7Slagoffers en •graanoffers is nie wat U wil hê nie – U het my ore oopgemaak – •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie gevra nie.

8Daarop het ek gesê: “Kyk, ek het gekom – in die •boekrol is oor my geskryf.

9Wat U behaag, my God, wil ek graag doen; u wet is in my binneste.”

10Ek het die goeie boodskap van geregtigheid gebring in 'n groot byeenkoms, kyk, my lippe hou ek nie dig nie. U weet dit self, Here.

11U geregtigheid het ek nie in my hart verberg nie, oor u trou en verlossing het ek gepraat. Ek het nie u troue liefde en waarheid vir 'n groot byeenkoms geheim gehou nie.

12U, Here, moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou,

13want tallose gevare omring my. My sondeskuld het my ingehaal, sodat ek nie kan sien nie; dit is meer as die hare op my kop. My moed het my begewe.

14Mag dit U behaag om my te red, Here, Here, kom my gou te hulp!

15Laat hulle almal saam beskaamd en verleë staan, hulle wat my lewe soek. Laat hulle terugdeins en verneder word, hulle wat behae het in my teenspoed.

16Mag hulle ontredderd wees deur hulle skande, hulle wat vir my sê: “Aha! Aha!”

17Mag almal wat U soek hulle verheug en in U bly wees; mag hulle wat u verlossing liefhet, voortdurend sê: “Die Here is groot!”

18Ek is magteloos en behoeftig, maar my Heer sal aan my dink. U is my hulp, my bevryder. My God, moenie talm nie.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 40.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.