1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2By U, Here, skuil ek. Laat my nie vir altyd beskaamd staan nie, bevry my deur u •geregtigheid.
3Draai u oor na my, red my gou; wees 'n rotsvesting vir my, 'n bergskuiling tot my redding.
4Want U is my rotsvesting, en my bergskuiling; en ter wille van u Naam moet U my lei en begelei.
5Laat my loskom uit die vangnet wat hulle vir my gespan het; U is immers my toevlug.
6In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.
7Ek het 'n weersin in mense wat nietige afgode aanhang, maar ek, op die Here vertrou ek.
8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde – dat U my ellende raakgesien het, bewus was van die benouenis van my lewe,
9my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op 'n ruim plek laat staan het.
10Wees my genadig, Here, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my •siel en liggaam,
11ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met 'n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op.
12Ek het 'n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, 'n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg.
13Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos 'n gebreekte kleipot.
14Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem.
15Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: “U is my God,
16my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg.
17Laat u aangesig oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde.
18Here, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddeloses beskaamd staan, laat hulle die •doderyk stil binnegaan.
19Laat die bedrieglike lippe swyg, hulle wat uit die hoogte en met minagting onbeskaamd oor die regverdiges praat.
20Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk.
21U verberg hulle in die beskutting van u teenwoordigheid teen die sameswering van mense; teen twisgierige tonge steek U hulle weg in 'n skuiling.
22Die Here moet geprys word, want in 'n beleërde stad het Hy sy troue liefde wonderbaarlik aan my bewys.
23Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het.
24Julle moet die Here liefhê, almal wat aan Hom getrou is. Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree.
25Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.