1'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die huis. Van Dawid.
2Ek verheerlik U, Here, want U het my opgetrek en U het nie toegelaat dat my vyande hulle oor my verheug nie.
3Here my God, ek het na U om hulp geroep en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my lewe uit die •doderyk laat opkom; U het my lewend gehou tussen dié wat afdaal in die put.
5Besing die Here, julle wat sy getroue volgelinge is, en prys sy •heilige, gevierde Naam,
6want sy toorn duur 'n oomblik, sy goedgesindheid 'n lewe lank. In die aand word daar aanhoudend gehuil, maar teen die oggend is daar jubelkrete.
7Ek is die een wat onbesorg gesê het: “Ek sal nooit wankel nie!”
8Deur u goedgesindheid het U, Here, my so sterk soos 'n berg laat staan. Verberg U u gesig, is ek beangs.
9“Na U, Here, roep ek, by my Heer smeek ek om genade:
10Watter nut het dit as my bloed gestort word, as ek na die grafkuil afgaan? Sal stof U prys? Sal dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig! Here, wees vir my 'n helper!
12“U het my rouklag in 'n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord,
13sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie. Here, my God, ek sal U vir altyd prys!”