1Van Dawid. Na U, Here, hunker ek.
2My God, op U vertrou ek; laat my tog nie beskaamd staan nie; laat my vyande nie oor my jubel nie.
3Ja, niemand wat op U wag, sal beskaamd staan nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal beskaamd staan.
4Here, maak u paaie aan my bekend; leer my u weë.
5Lei my deur u waarheid en leer my, want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag.
6Dink aan u barmhartigheid en u troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar.
7Aan die sondes van my jeug en my oortredings moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.
8Die Here is goed en reg, daarom leer Hy sondaars die pad.
9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer.
10Al die paaie van die Here is troue liefde en waarheid vir hulle wat hou by sy verbond en sy bepalings.
11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my sondeskuld, want dit is groot.
12Wie is die mens wat vir die Here ontsag het? Die Here leer hom die pad wat hy moet kies.
13Sy lewe verloop voorspoedig en sy nageslag sal die land besit.
14Die Here neem hulle wat vir Hom ontsag het, in sy vertroue, en sy verbond is daar om hulle te onderrig.
15My oë bly altyd op die Here, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry.
16Draai U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos.
17Die benoudheid van my hart is oorweldigend; lei my uit my kwellinge.
18Sien tog my ellende en my swaarkry raak en vergewe al my sonde.
19Kyk na my vyande, hoe baie hulle geword het; en hoe fel hulle my haat.
20Beskerm tog my lewe en red my; laat my nie beskaamd staan nie, want ek skuil by U.
21Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.
22Bevry Israel, o God, van al sy benoudheid.