1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
3Dag ná dag bring dit 'n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee.
4Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie,
5gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld. Vir die son het Hy 'n tent opgeslaan in die hemel.
6Die son is soos 'n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos 'n held wat op die pad hardloop.
7Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie.
8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges.
9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.
10Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig.
11Dit is begeerliker as goud, begeerliker as 'n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as 'n heuningkoek wat drup.
12Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer 'n mens daarby hou, is die beloning groot.
13Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes!
14Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings.
15Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.