1'n •Pelgrimslied. Dink tog, Here, aan Dawid, aan al sy opofferings,
2hy wat teenoor die Here 'n eed gesweer het, 'n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob:
3“Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie,
4ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie,
5totdat ek vir die Here 'n plek gevind het, 'n woning vir die Magtige van Jakob.”
6Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär.
7Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete.
8Staan op, Here, gaan na u rusplek, U en u magtige •ark.
9U priesters moet geklee wees in •geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel.
10Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie.
11Die Here het vir Dawid 'n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas.
12As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.”
13Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek:
14“Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit.
15Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig;
16haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig.
17Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitgroei; Ek het 'n lamp gereedgemaak vir my gesalfde.
18Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.”