Psalms 102AFR20

1'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort.

2Here, hoor tog my gebed! Laat my hulpkreet U bereik!

3Moet tog nie u gesig vir my verberg in my tyd van nood nie. Draai u oor na my in die tyd wanneer ek roep; antwoord my gou!

4Want my dae eindig in rook, my gebeente word verskroei asof in 'n vuurherd.

5My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid, ja, ek vergeet om my brood te eet.

6Vanweë my harde gekla is ek net vel en been.

7Ek is soos 'n bontkraai in die woestyn; ek het geword soos 'n naguiltjie op puinhope.

8Ek lê wakker; ek het geword soos 'n eensame voël op 'n dak.

9Die hele dag dryf my vyande die spot met my; dié wat met my die gek skeer, gebruik my naam in verwensings.

10Want stof eet ek soos brood, en wat ek drink, meng ek met trane,

11vanweë u vervloeking en u grimmigheid; ja, U het my opgetel en neergegooi.

12My dae is soos 'n skaduwee wat lank word, en ek, soos onkruid verdroog ek.

13Maar U, Here, U heers vir ewig; u gevierde Naam duur van geslag tot geslag.

14U self sal opstaan, U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom.

15Haar klippe is immers kosbaar vir u diensknegte, hulle is begaan oor haar puin.

16Nasies sal ontsag hê vir die Naam van die Here, en al die konings van die aarde vir u majesteit,

17wanneer die Here Sion herbou en Hy in sy majesteit verskyn.

18Hy sal Hom wend na die gebed van die brandarmes; Hy sal hulle gebed nie minag nie.

19Dit moet neergeskryf word vir 'n volgende geslag, sodat die volk wat geskep word, die Here sal loof met die woorde:

20“Die Here het afgekyk uit sy hoë heiligdom; uit die hemel het Hy die aarde beskou,

21om die gesug van gevangenes te hoor, om dié wat gedoem was tot die dood, te bevry,

22om in Sion die Naam van die Here te verkondig en sy lof in Jerusalem,

23wanneer volke byeenkom, ja, koninkryke, om die Here te dien.”

24Hy het op die lewenspad my krag gebreek, Hy het my dae kortgeknip.

25Ek sê: “My God, moet my nie wegneem teen die helfte van my lewensdae nie. Van geslag tot geslag duur u jare.

26Voor alle tye het U die aarde gevestig; die hemel is die werk van u hande.

27Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan. Soos 'n kledingstuk sal hulle almal verslyt; soos 'n bokleed vervang U hulle, en hulle verdwyn.

28Maar U bly dieselfde, u jare sal nie tot 'n einde kom nie.”

29Die kinders van u diensknegte sal hier bly woon, hulle nageslag sal gevestig wees in u teenwoordigheid.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 102.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.