1Wysheid het haar huis gebou, sy het haar sewe pilare uitgekap.
2Sy het haar slaggoed geslag, haar wyn gemeng, en ook haar tafel voorberei.
3Sy het haar diensmeisies gestuur; sy roep uit vanaf die hoogste plekke in die stad:
4“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê:
5“Kom, eet van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het!
6Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig!
7“Wie 'n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie 'n goddelose teregwys, kry 'n klad op sy naam.
8Moenie 'n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys 'n wyse tereg, en hy sal jou liefhê.
9Gee aan 'n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan 'n regverdige, en sy geleerdheid neem toe.
10Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig.
11“Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg.
12As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.”
13Vrou Dwaasheid is luidrugtig, onbesonne, en weet niks.
14Sy sit by die ingang na haar huis, op 'n troon op die hoogste plek in die stad,
15om te roep na hulle wat op die pad verbygaan, wat reguit loop op hulle paaie:
16“Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê:
17“Gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is smaaklik.”
18Maar hy weet nie dat die skimme daar is nie; in die dieptes van die •doderyk is haar genooides.