1Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan.
2Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood.
3Die Here laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy.
4'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk.
5Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak.
6Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld.
7Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot.
8Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val.
9Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap.
10Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val.
11'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld.
12Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings.
13Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand.
14Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang.
15Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede.
16Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde.
17Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg.
18Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas.
19By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig.
20Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd.
21Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand.
22Die seën van die Here – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie.
23Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens.
24Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God.
25Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament.
26Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur.
27Ontsag vir die Here verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip.
28Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan.
29Die weg van die Here is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners.
30'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie.
31Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny.
32Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.