Proverbs 8AFR20

1Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie?

2Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem.

3Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit:

4“Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders.

5Kry tog insig in vernuf, onverstandiges; onnoseles, bring die hart tot insig!

6Luister, want oor gepaste dinge praat ek – en oor my lippe kom wat reg is.

7Want die waarheid, dit verkondig my mond, en afstootlik vir my lippe is goddeloosheid.

8Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie;

9dit is alles duidelik vir wie insig toon, en gepas vir hulle wat kennis verwerf.

10Aanvaar my vermaning, en nie silwer nie, aanvaar kennis eerder as goud.”

11Ja, Wysheid is beter as koraal, en niks wat begeerlik is, kan met haar vergelyk word nie.

12“ Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek.

13Ontsag vir die Here is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, 'n verkeerde pad en 'n verdorwe mond haat ek.

14Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag.

15Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit.

16Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem.

17Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind.

18Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid.

19My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer.

20Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid –

21om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol.

22“Die Here, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede.

23In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde.

24Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie.

25Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring,

26toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland.

27Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa;

28toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het;

29toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het,

30was ek 'n lieflingskind aan sy sy – ek was dag ná dag sy vreugde, terwyl ek die hele tyd voor Hom speel.

31Terwyl ek op die bewoonbare deel van sy aarde speel, het ek vreugde gevind in die mensekinders.

32“ Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly.

33Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie.

34Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou.

35Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here.

36Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 8.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.