Proverbs 7
1 My seun, neem my woorde ter harte; en my opdragte, hou dit veilig by jou.
2 Kom my opdragte na, dan sal jy leef; ja, koester my onderrig soos die appel van jou oog.
3 Bind dit aan jou vingers, skryf dit op die tafel van jou hart.
4 Sê vir wysheid: “Jy is my suster!” En noem insig bloedfamilie,
5 sodat dit jou beskerm teen 'n vreemde vrou, teen 'n uitlander met haar vleitaal.
6 Want deur die venster van my huis, deur my latwerk, het ek afgekyk;
7 en ek sien toe daar by die onkundiges, ja, ek merk toe onder die seuns 'n jong man sonder verstand,
8 wat die stegie by haar hoek oorsteek, wat op pad na haar huis stap
9 teen skemeraand, toe die nag en donker begin toesak.
10 Kyk, toe is daar 'n vrou wat hom tegemoetgaan, met die drag van 'n prostituut, en met 'n listige hart.
11 Sy is altyd luidrugtig en koppig. In haar huis is haar voete nie tuis nie;
12 sy is nou op straat, dan weer op die dorpspleine, en op elke straathoek is sy op die loer.
13 Sy gryp hom en soen hom; met 'n onbeskaamde gesig sê sy vir hom:
14 “ Daar is •maaltydoffers by my; vandag het ek my geloftes betaal.
15 Daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet; ek was op die uitkyk vir jou, en ek het jou gekry.
16 Met dekens het ek my slaapbank opgemaak, met geborduurde linne uit Egipte.
17 Ek het my slaapplek besprinkel met mirre, adelhout en kaneel.
18 Kom, laat ons ons versadig drink aan die liefdespel tot die môre toe, laat ons swelg in die liefdesgenot.
19 Want my man is nie tuis nie; hy het op reis gegaan, ver weg.
20 Hy het die sak met geld met hom saamgeneem; teen die tyd van volmaan sal hy eers huis toe kom.”
21 Sy verlei hom met haar stortvloed oortuigende woorde, met haar gladde mond haal sy hom oor.
22 Hy loop dadelik agter haar aan; soos 'n bees na die slagplek gaan hy in, met die huppel van 'n rooitakbok op pad na 'n vangstrik
23 – totdat 'n pyl sy lewer deurboor – soos 'n voël hom haas na 'n net; maar hy weet nie dit gaan sy lewe kos nie.
24 Daarom, seuns, luister na my, en slaan ag op die woorde uit my mond.
25 Laat jou hart nie afdraai na haar weë nie; moenie op haar paaie ronddwaal nie.
26 Ja, baie gesneuweldes het sy laat val, en talryk is al haar slagoffers.
27 Paaie na die •doderyk is haar huis; hulle lei af na die binnekamers van die dood.