1My seun, as jy vir jou medemens borg gestaan het, vir 'n vreemde jou hand gegee het,
2as jy in 'n strik getrap het deur die woorde van jou mond, vasgevang is deur die woorde van jou mond,
3doen dan dit, my seun, om jouself te bevry, want jy het in die palm van jou medemens se hand beland: Gaan – verneder jouself! Loop reguit op jou medemens af!
4Laat jou oë nie toe om te slaap, en jou ooglede om in te sluimer nie.
5Ruk jouself los soos 'n gasel uit die hand van 'n jagter, soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
6Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys.
7Hy wat nie 'n •aanvoerder, opsiener of heerser het nie,
8berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel.
9Hoe lank, luiaard, gaan jy nog bly lê? Wanneer gaan jy opstaan uit jou slaap?
10'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus;
11dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man.
12'n Deugniet van 'n mens, 'n boosdoener, is hy wat met 'n mond vol valsheid rondloop,
13wat met sy oë knik, tekens gee met sy voete, beduie met sy vingers,
14met 'n verdorwe hart die hele tyd kwaad stig en tweedrag saai.
15Daarom, onverwags kom sy teenspoed – plotseling word hy verpletter, sonder herstel.
16Daar is ses dinge waarin die Here 'n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik:
17hovaardige oë, 'n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet,
18'n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop,
19'n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers.
20My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie.
21Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek.
22Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou.
23Want 'n gebod is 'n lamp, en onderrig is 'n lig. Die pad na die lewe is teregwysing deur vermaning,
24om jou te beskerm teen 'n slegte vrou, teen die gladde tong van 'n vreemde vrou.
25Moenie haar skoonheid in jou hart begeer nie, en moenie toelaat dat sy jou vang met haar wimpers nie.
26Ja, die prys vir 'n prostituut is soveel as die prys van 'n ronde brood, maar iemand anders se vrou – sy maak jag op 'n kosbare lewe.
27Kan 'n man vuur in die vou van sy kleed dra, maar sy klere raak nie aan die brand nie?
28As 'n man op gloeiende kole loop, sal sy voete dan nie verskroei nie?
29So gaan dit met hom wat by die vrou van sy medemens ingaan. Niemand wat haar aanraak, sal ongestraf bly nie.
30Verag mense nie 'n dief as hy steel nie, al is dit om sy eetlus te bevredig wanneer hy honger is?
31En word hy uitgevang, moet hy dit sewevoudig vergoed; al die besittings in sy huis moet hy dan oorhandig.
32Hy wat owerspel pleeg met 'n vrou, is sonder verstand; wie sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets.
33Slae en skande sal hy op die lyf loop, en sy bespotting sal nie uitgewis word nie.
34Want jaloesie wek 'n man se woede, en hy sal genadeloos wees op die dag van wraak.
35Hy sal nie geneë wees tot enige omkoopgeld nie, ook nie inwillig wanneer die afkoopsom verhoog word nie.