1Die woorde van Lemuel, 'n koning. 'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het.
2Moenie, my seun, ja, moenie, seun van my skoot, ja, moenie, seun van my geloftes,
3moenie aan vroue jou lewenskrag bestee nie, of jou paaie daarop rig om konings uit te wis nie.
4Dit is vir konings nie gepas nie, Lemuel, dit is vir konings nie gepas om wyn te drink nie, vir hooggeplaastes om te wees waar daar sterk drank is nie.
5Anders drink hy, en vergeet wat as voorskrifte neergelê is, en skend hy die regte van al die magteloses.
6Gee sterk drank aan die een wat ten gronde gaan, en wyn aan mense met verbitterde siele.
7Laat hy drink en sy armoede vergeet, sy swaarkry nie meer onthou nie.
8Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn.
9Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige.
10'n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.
11Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie.
12Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
13Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande.
14Sy is soos die skepe van 'n handelaar, van ver af bring sy haar brood in.
15Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies.
16Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy 'n wingerd.
17Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue.
18Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie.
19Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.
20Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges.
21Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof.
22Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol.
23Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit.
24Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars.
25Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms.
26Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong.
27Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie.
28Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof:
29“Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.”
30Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; 'n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word.
31Gee aan haar 'n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!