Proverbs 30AFR20

1Die woorde van Agur, seun van Jake. Uitspraak van God. Dit is die uitspraak van die man: Ek is moeg, o God, ek is moeg, o God, en gedaan.

2Want ek is dommer as enigiemand; ek het nie die verstand van 'n mens nie.

3Ek het nie wysheid geleer nie, en kennis van die Heilige het ek nie.

4Wie het opgegaan na die hemel en afgekom? Wie het die wind bymekaargemaak in die holte van sy twee hande? Wie het die water in 'n oorkleed saamgebind? Wie het al die uithoeke van die aarde vasgestel? Wat is sy naam? En wat is sy seun se naam, as jy dit weet?

5Elke woord van God is gelouter; 'n skild is Hy vir hulle wat by Hom skuil.

6Moenie iets byvoeg by sy woorde nie, anders verklaar Hy jou skuldig en word jy as 'n leuenaar uitgekryt.

7Twee dinge vra ek van U – moet dit nie van my terughou voordat ek sterf nie:

8Valsheid en leuentaal, hou dit ver van my. Moet my nie armoede of rykdom gee nie; breek my porsie brood vir my af,

9sodat ek nie oorversadig raak en U misken en sê, “Wie is die Here? ” nie, of verarm en steel, en die naam van my God geweld aandoen nie.

10Moenie 'n slaaf by sy baas beswadder nie, anders vervloek hy jou en moet jy boete doen.

11Daar is 'n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie,

12'n geslag wat rein is in sy eie oë, maar van sy ontlasting nie skoon gewas is nie,

13'n geslag – hoe hoogmoedig is sy oë en aanmatigend sy wimpers!

14Daar is 'n geslag waarvan die tande swaarde is, en die kake messe om mee te verteer – die magteloses van die aarde af, en die behoeftiges onder die mense uit.

15Die bloedsuier het twee dogters: Gee! Gee! Daar is drie dinge wat nie versadig raak nie, vier wat nie sê “Genoeg!” nie:

16die •doderyk, 'n geslote moederskoot, grond wat nie versadig raak van water nie, en vuur wat nie sê, “Genoeg!” nie.

17'n Oog wat 'n vader bespot en gehoorsaamheid aan 'n moeder verag – die kraaie in die dal sal dit uitpik, en die arend se kuikens sal dit opvreet.

18Drie dinge is vir my te wonderlik, ja, vier kan ek nie begryp nie:

19die weg van die arend in die lug, die weg van 'n slang oor 'n rots, die weg van 'n skip op die oop see, en die weg van 'n man by 'n jongmeisie.

20Só is die weg van 'n vrou wat egbreuk pleeg: Sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het geen onreg gepleeg nie.”

21Onder drie dinge bewe die aarde, ja, onder vier kan hy dit nie uithou nie:

22onder 'n slaaf as hy koning word, 'n niksnuts as hy hom versadig eet aan brood,

23onder 'n getroude vrou wat nie-geliefd is, en 'n diensmeisie as sy haar eienares verdryf.

24Vier is die kleines van die aarde, maar hulle is buitengewoon slim:

25Die miere is 'n gemeenskap wat nie sterk is nie, en tog berei hulle vir hulle kos voor in die somer.

26Dassies is 'n gemeenskap wat nie magtig is nie, en tog maak hulle in die rotse hulle blyplek.

27Treksprinkane het geen koning nie, en tog trek hulle almal in groepe uit.

28'n Geitjie kan jy met die hande vang, en tog is hy in koninklike paleise.

29Daar is drie met 'n statige stap, vier met 'n statige gang:

30'n leeu, die held onder die diere wat vir niks terugdeins nie,

31'n haan wat pronkerig stap, of 'n bokram, en 'n koning met sy leër by hom.

32As jy ydel was deur jouself te verhef, of as jy dit beplan het – plaas jou hand voor jou mond!

33Want die karring van room bring botter voort, die gekarring aan 'n neus bring bloed voort, en die gekarring aan toorn bring 'n regstryd voort.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 30.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.