1Iemand wat ná teregwysings hardnekkig bly, sal onverwags verpletter word, sonder kans op herstel.
2Wanneer regverdiges meer word, is die volk verheug; maar wanneer goddeloses heers, sug 'n volk.
3Iemand wat wysheid liefhet, verheug sy vader; maar wie met prostitute deurmekaar raak, vernietig rykdom.
4'n Koning hou deur die reg 'n land in stand; maar hy wat heffings oplê, breek dit af.
5'n Man wat sy medemens vlei, span 'n vangnet vir sy eie voete.
6In die oortreding van 'n bose mens lê daar 'n valstrik, maar 'n regverdige juig en is bly.
7'n Regverdige is bedag op die regte van armes; 'n goddelose verstaan nie sulke kennis nie.
8Spotters blaas oproer aan in 'n stad, maar wyses bring toorn tot bedaring.
9As 'n wyse mens betrokke raak in 'n hofsaak met 'n sot, is die sot senuweeagtig en giggel sonder ophou.
10Mense wat bloed vergiet, haat 'n onberispelike mens; maar opregtes, hulle is begaan oor sy lewe.
11'n Dwaas gee vrye teuels aan al sy gevoelens, maar 'n wyse bedwing sy gevoelens uiteindelik.
12'n Heerser wat luister na leuentaal – almal wat in sy diens is, is goddeloos.
13Die arme en onderdrukker het dít gemeen: Die Here gee lig aan albei se oë.
14'n Koning wat armes billik oordeel – sy troon sal vir altyd standhou.
15'n Lat en teregwysing gee wysheid; maar 'n jong seun aan homself oorgelaat, steek sy moeder in die skande.
16Wanneer goddeloses meer word, neem oortredings toe; maar regverdiges sal hulle val beleef.
17Straf jou seun, dan sal hy jou rus gee; hy sal aan jou lewe genot verskaf.
18Wanneer daar geen profetiese visioen is nie, raak 'n volk bandeloos; maar wanneer hulle die wet nakom, is hulle gelukkig.
19Deur woorde alleen laat 'n slaaf hom nie bestraf nie; al verstaan hy dit, hy reageer nie daarop nie.
20Het jy al iemand gesien wat oorhaastig is met sy woorde? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom.
21Bederf iemand sy slaaf van jongs af, sal hy later opstandig wees.
22'n Opvlieënde mens sit 'n stryery aan die gang, en 'n heethoof het baie oortredings.
23Die verwaandheid van 'n mens sal hom verneder; maar hy wat nederig is, sal eer ontvang.
24Wie met 'n dief buit deel, haat sy eie lewe; hy hoor die vervloeking, maar maak tog niks bekend nie.
25Die vrees vir mense word 'n valstrik; maar wie op die Here vertrou, word beskerm.
26Baie mense soek guns by 'n heerser, maar 'n mens se reg kom van die Here.
27'n Oneerlike mens is afstootlik vir regverdiges; maar wie opreg is in sy optrede, is afstootlik vir 'n goddelose.