Ecclesiastes 1
1 Die woorde van Prediker, seun van Dawid, koning in Jerusalem.
2 Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos!
3 Watter voordeel is daar vir 'n mens met al sy inspanning waarmee hy hom afsloof onder die son?
4 Geslagte kom en geslagte gaan, en die aarde bestaan vir altyd.
5 Die son kom op en die son gaan onder, en haas hom na sy plek waar hy opkom.
6 Die wind waai na die suide en draai na die noorde. Dit bly draai en draai – op sy kringloop keer die wind telkens terug.
7 Al die strome vloei na die see, maar die see word nie vol nie. Na die plek waarheen die strome vloei, daarheen vloei hulle altyd weer.
8 Alles bly aan die worstel – 'n mens kan dit onder woorde nie bring nie; oë raak nie versadig van sien en ore raak nie vol van hoor nie.
9 Wat ook al gebeur het, dit is wat gaan gebeur; en wat ook al gedoen is, dit is wat gedoen gaan word. Daar is niks nuuts onder die son nie.
10 As daar iets is waarvan iemand sê, “Kyk hier, dit is nuut!” – dit het reeds gebeur in die tye wat voor ons daar was.
11 Vroeëre gebeure word nie onthou nie, en ook nie die latere wat nog sal gebeur nie – daar is aan hulle net so min herinnering as aan dit wat sal gebeur teen die einde.
12 Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.
13 Ek het my daaraan toegewy om alles wat onder die hemel gedoen word, met wysheid te ondersoek en na te vors. Dit is 'n nuttelose taak wat God aan mense opgedra het om hulle mee te belas.
14 Ek het gekyk na alles wat gedoen word onder die son: Kyk, dit alles is sinloos, 'n gejaag na wind.
15 Wat krom is, kan nie reguit word nie; wat ontbreek, kan nie getel word nie.
16 Ek het vir myself gesê: Wat my betref, kyk, ek het wysheid opgebou en vermeerder, meer as enigiemand wat voor my oor Jerusalem geheers het. My hart het baie insig gekry in wysheid en kennis.
17 Toe het ek my daaraan toegewy om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Ek het besef dat selfs dit die najaag van wind is.
18 Want met baie wysheid kom baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder lyding.