Ecclesiastes 2AFR20

1Ek het in my hart gesê: Kom, ek laat jou plesier uittoets. Geniet wat goed is! Maar kyk, ook dit was sinloos.

2Om te lag, het ek gesê, is onsinnig, en oor plesier, wat lewer dit op?

3Ek het dit ernstig oorweeg om my liggaam met wyn op te beur, terwyl my hart my met wysheid lei, en om aan dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir mense, wat hulle onder die hemel moet doen gedurende hulle min lewensdae.

4Ek het groot ondernemings aangepak: Ek het vir my huise gebou; ek het vir my wingerde geplant.

5Ek het vir my tuine en parke aangelê, en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant.

6Ek het vir my damme gemaak om 'n bos jong bome daaruit nat te lei.

7Ek het slawe en slavinne gekoop, en slawekinders wat in my huis gebore is, was ook deel van my besittings. Ek het meer beeste en kleinvee gehad as almal wat voor my in Jerusalem was.

8Ek het ook vir my silwer en goud, die privaatbesit van konings, en provinsies, bymekaargemaak. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf, en die genot van mensekinders: baie byvroue!

9So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou.

10Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie. Ja, my hart het vreugde geput uit al my inspanning. Dit was my beloning vir al my inspanning.

11Maar ek het nagedink oor al die werk wat my hande verrig het, en die inspanning waarmee ek my afgesloof het om dit tot stand te bring. En kyk, alles was sinloos en 'n gejaag na wind. Dit het geen voordeel ingehou onder die son nie.

12Ek het daaraan aandag geskenk om insig te kry in wysheid, in domheid en dwaasheid: Wat sal die een doen wat die koning opvolg? Dit wat reeds gedoen is!

13Ek het ingesien dat daar 'n voordeel is aan wysheid bo dwaasheid, soos die lig 'n voordeel is bo die duisternis.

14Die wyse het oë in sy kop, maar die dwaas verkeer in die duister. Ek het egter ook besef dat dieselfde lot beide tref.

15Toe het ek in my hart gesê: Die lot van die dwaas sal my ook tref. Waarom is ek dan buitengewoon wys? Ek het vir myself gesê dat ook dit sinloos is.

16Daar is immers geen blywende herinnering aan die wyse nie, net so min as aan die dwaas. In die dae wat kom sal alles lank reeds vergete wees. Ag, hoe sterf die wyse net soos die dwaas!

17Ek het 'n weersin in die lewe gekry, want wat onder die son gedoen word, het my gegrief; ja, dit alles is sinloos en 'n gejaag na wind.

18Ek het 'n weersin gekry in al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het – dat ek dit moet nalaat aan die een wat ná my kom.

19En wie weet of hy 'n wyse man sal wees of 'n dwaas? Hy gaan beheer hê oor alles waarvoor ek my ingespan het, waarvoor ek my afgesloof het en wat ek onder die son met wysheid uitgevoer het. Ook dit is sinloos.

20Ek het my hart aan vertwyfeling oorgegee, oor al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het;

21want iemand wat hom met wysheid, kennis en kundigheid afgesloof het, laat die vrug van sy arbeid as beloning na aan iemand wat hom nie daarvoor afgesloof het nie. Ook dit is sinloos en 'n groot euwel.

22Ja, wat kry 'n mens vir al sy inspanning en die strewe van sy hart waaroor hy besorg was onder die son?

23Want al sy dae is vol lyding, en sy taak is vir hom 'n verdriet – selfs snags kom sy hart nie tot rus nie. Ook dit is sinloos.

24Daar is niks beter vir die mens as dat hy eet en drink en sy keel laat geniet wat goed is vir sy inspanning nie. Ook dit het ek ingesien: Dit is uit die hand van God,

25want: “Wie kan eet en wie kan geniet sonder My?”

26Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde; maar vir die een wat verkeerd optree, gee Hy die taak om te versamel en bymekaar te maak – net om dit te oorhandig aan een wat aanvaarbaar is vir God. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Ecclesiastes 2.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.