Ecclesiastes 2
1 Ek het in my hart gesê: Kom, ek laat jou plesier uittoets. Geniet wat goed is! Maar kyk, ook dit was sinloos.
2 Om te lag, het ek gesê, is onsinnig, en oor plesier, wat lewer dit op?
3 Ek het dit ernstig oorweeg om my liggaam met wyn op te beur, terwyl my hart my met wysheid lei, en om aan dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir mense, wat hulle onder die hemel moet doen gedurende hulle min lewensdae.
4 Ek het groot ondernemings aangepak: Ek het vir my huise gebou; ek het vir my wingerde geplant.
5 Ek het vir my tuine en parke aangelê, en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant.
6 Ek het vir my damme gemaak om 'n bos jong bome daaruit nat te lei.
7 Ek het slawe en slavinne gekoop, en slawekinders wat in my huis gebore is, was ook deel van my besittings. Ek het meer beeste en kleinvee gehad as almal wat voor my in Jerusalem was.
8 Ek het ook vir my silwer en goud, die privaatbesit van konings, en provinsies, bymekaargemaak. Ek het vir my sangers en sangeresse aangeskaf, en die genot van mensekinders: baie byvroue!
9 So het ek baie belangriker geword as enigiemand wat voor my in Jerusalem was; boonop het ek my wysheid steeds behou.
10 Wat my oë ook al begeer het, het ek hulle nie ontsê nie. Ek het my hart nie weerhou van enige plesier nie. Ja, my hart het vreugde geput uit al my inspanning. Dit was my beloning vir al my inspanning.
11 Maar ek het nagedink oor al die werk wat my hande verrig het, en die inspanning waarmee ek my afgesloof het om dit tot stand te bring. En kyk, alles was sinloos en 'n gejaag na wind. Dit het geen voordeel ingehou onder die son nie.
12 Ek het daaraan aandag geskenk om insig te kry in wysheid, in domheid en dwaasheid: Wat sal die een doen wat die koning opvolg? Dit wat reeds gedoen is!
13 Ek het ingesien dat daar 'n voordeel is aan wysheid bo dwaasheid, soos die lig 'n voordeel is bo die duisternis.
14 Die wyse het oë in sy kop, maar die dwaas verkeer in die duister. Ek het egter ook besef dat dieselfde lot beide tref.
15 Toe het ek in my hart gesê: Die lot van die dwaas sal my ook tref. Waarom is ek dan buitengewoon wys? Ek het vir myself gesê dat ook dit sinloos is.
16 Daar is immers geen blywende herinnering aan die wyse nie, net so min as aan die dwaas. In die dae wat kom sal alles lank reeds vergete wees. Ag, hoe sterf die wyse net soos die dwaas!
17 Ek het 'n weersin in die lewe gekry, want wat onder die son gedoen word, het my gegrief; ja, dit alles is sinloos en 'n gejaag na wind.
18 Ek het 'n weersin gekry in al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het – dat ek dit moet nalaat aan die een wat ná my kom.
19 En wie weet of hy 'n wyse man sal wees of 'n dwaas? Hy gaan beheer hê oor alles waarvoor ek my ingespan het, waarvoor ek my afgesloof het en wat ek onder die son met wysheid uitgevoer het. Ook dit is sinloos.
20 Ek het my hart aan vertwyfeling oorgegee, oor al die inspanning waarmee ek my onder die son afgesloof het;
21 want iemand wat hom met wysheid, kennis en kundigheid afgesloof het, laat die vrug van sy arbeid as beloning na aan iemand wat hom nie daarvoor afgesloof het nie. Ook dit is sinloos en 'n groot euwel.
22 Ja, wat kry 'n mens vir al sy inspanning en die strewe van sy hart waaroor hy besorg was onder die son?
23 Want al sy dae is vol lyding, en sy taak is vir hom 'n verdriet – selfs snags kom sy hart nie tot rus nie. Ook dit is sinloos.
24 Daar is niks beter vir die mens as dat hy eet en drink en sy keel laat geniet wat goed is vir sy inspanning nie. Ook dit het ek ingesien: Dit is uit die hand van God,
25 want: “Wie kan eet en wie kan geniet sonder My?”
26 Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde; maar vir die een wat verkeerd optree, gee Hy die taak om te versamel en bymekaar te maak – net om dit te oorhandig aan een wat aanvaarbaar is vir God. Ook dit is sinloos en 'n gejaag na wind.