Proverbs 3AFR20

1My seun, my onderrig moet jy nie vergeet nie, en my gebooie – jou hart moet daarby hou;

2want die lengte van jou leeftyd, die lewensjare en vrede sal dan vir jou vermeerder word.

3Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart,

4dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense.

5Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie.

6Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

7Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad.

8Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.

9Eer die Here met jou rykdom, met die beste deel van jou volle oes;

10dan sal jou graanskure oorvol wees, en van •nuwe wyn sal jou parskuipe oorloop.

11Die vermaning van die Here, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie 'n afkeer hê van sy teregwysing nie.

12Want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos 'n vader die seun vir wie hy omgee.

13Hoe gelukkig is 'n mens wat wysheid vind, en 'n mens wat verstandigheid verkry!

14Ja, die wins wat wysheid lewer, is meer as dié van silwer, meer as dié van goud is haar opbrengs.

15Sy is kosbaarder as koraal; niks wat jy begeer, kan met haar vergelyk word nie.

16'n Lang lewe is in haar regterhand, en in haar linkerhand, rykdom en eer.

17Haar weë is aangename weë, en al haar paaie is vrede.

18'n Boom van lewe is sy vir hulle wat haar aangryp, en hulle wat haar vashou, word elkeen gelukkig genoem.

19Die Here self het die aarde gegrondves met wysheid, die hemel gevestig met verstand.

20Deur sy kennis is die •oerwaters gekloof en drup die wolke dou.

21My seun, vindingrykheid en goeie oordeel – laat dit nie aan jou oë ontglip nie; hou daarby.

22Dit sal lewe wees vir jou wese, 'n sieraad vir jou nek.

23Dan sal jy veilig loop op jou pad; jou voet sal jy nie stamp nie.

24As jy gaan lê, sal jy nie verskrik wees nie, as jy lê, sal jou slaap soet wees.

25Jy hoef nie bang te wees vir 'n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie.

26Want die Here sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in 'n strik trap.

27Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie.

28Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie.

29Moenie teen jou medemens kwaad smee, terwyl hy in goeie trou by jou woon nie.

30Moenie onnodig 'n saak teen iemand begin, as hy jou geen kwaad aangedoen het nie.

31Moenie iemand wat geweld gebruik, beny nie, en moenie enige van sy paaie kies nie;

32want vir die Here is iemand wat die spoor byster raak, afstootlik – maar opregtes geniet sy vertroue.

33Die Here se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy.

34Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade.

35Eer is wat wyses as erfdeel ontvang, maar dwase, dié verhoog Hy tot skande.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.